DIALOOG (MET MENSE VAN AN­DER GODSDIENSTE)

DIALOOG (MET MENSE VAN AN­DER GODSDIENSTE). Naas die predi­king van die evangelie*, kerkplanting en talle vorms van liefdesdiens, is dialoog een van die beproefde sendingmetodes van ons tyd. Dié metode was in die verlede soms in omstredenheid gehul. Sommige het dit as ’n “uitverkoop van die evangelie” gesien: In plaas daarvan dat sendelinge met moed en oortuiging van Jesus* getuig, gaan sit hulle om die tafel met Jode*, Moesliems*, Hin­does* en andere. Die meeste kerke en sen­ding­organisasies sien die dialoog as ’n positiewe saak: Om nie uit die hoogte met men­se van ander gelowe te praat nie, maar om rustig, maar met groot erns, met hulle in gesprek te tree, om hulle gedagtewêreld en hulle leefwêreld te leer verstaan, om met oorgawe na hulle te luister – vóórdat die sendeling uiteindelik die vrymoedigheid neem om met al die oortuiging van sy/haar hart Jesus Christus* aan die gespreksgenoot bekend te stel.

Gedurende die geskiedenis was daar talle sendelinge, soos Fransiskus van Assisi*, Raymundus Lullus*, William Carey*, Stan­ley Jones*, DT Niles*, Paul Devanadan en MM Thomas wat met groot vrug van hier­die metode gebruik gemaak het. Wat die praktiese beoefening van die dialoog be­tref, onderskei die sendingkundige Jo Verkuyl* tussen drie gestaltes: dialoog om tot beter wedersydse begrip van mekaar te kom, dialoog om oor samewerking ten op­sigte van gemeenskaplike probleme te be­sluit, en uiteindelik dialoog wat ’n besliste “missionêre kommunikasie” ten doel het.

 

Sidebar