DIAS, BARTHOLOMEUS

DIAS, BARTHOLOMEUS (circa 1450– 1500) was ’n Portugese navigator en ontdekker wat in 1488 die eerste Europeër geword het wat om die Kaap die Goeie Hoop gevaar het. Koning Johan II se opdrag aan Dias om die suidpunt van Afrika te vind op soek na dié seeweg is beïnvloed deur gerugte dat ’n heerser, Ogane, hom in die Ooste bevind. Hy is vereenselwig met die legendariese priester-koning Jan, ’n Christen-heerser wat volgens oorlewering die Portugese kon help om die handels­oorheersing van die Moesliems in die Ooste te verbreek. Hy het hom glo in Indië en later in Abessinië (Etiopië) bevind.

Ná Dias se vertrek in Augustus 1487 van Lissabon af, het hy ver suid van Kaappunt gevaar om stormagtige toestande te vermy. Hy het op 3 Februarie 1488 Angra de São Bras (Mosselbaai) bereik waar hy besef het dat hy reeds om die suidpunt van Afrika gevaar het. Gedurende Maart 1488 moes Dias op aandrang van sy ontevrede bemanning by die monding van die Rio de Infante, waarskynlik die Groot Visrivier, omdraai. Hy het toe die Kaapse Skiereiland die naam Cabo de Bõa Esperança (Kaap die Goeie Hoop) gegee. Dias het op 24 Mei 1500 saam met al die skeepslui van vier skepies in ’n groot storm in die suidelike Atlantiese Oseaan sy lewe verloor.

Vir verdere lees: Eric Axelson (1940) 1969. South-East Africa 1488–1530. New York: Kraus Reprint.

Sidebar