DIASPORA (VERSTROOIING)

DIASPORA (VERSTROOIING) dui op die verskynsel dat so baie Israeliete mettertyd buite “die beloofde land” (Kanaän*/ Israel*/Palestina*) beland het. Daar moet onderskei word tussen ’n gedwonge en ’n vrywillige verstrooiing.

God het Israel reeds vroeg met verstrooiing gedreig as hulle nie in God se weë sou wandel nie (vgl Lev 26:33; Deut 4:27). Die gedwonge verstrooiing het gekom toe eers Israel*4 en daarna Juda*4 in ballingskap* weggevoer is. Baie min mense van die tien stamme het later na hulle land teruggekeer. Wat van die oorgrote meerderheid van hul­le geword het, weet ons nie. Klaarblyk­lik het hulle in ander volke opgegaan en mettertyd hulle identiteit as Israeliete verloor.

Die vrywillige verstrooiing dui op die baie Jode (uit die stam van Juda) wat hulle sedert die dae van Aleksander*1 die Grote in ander lande gevestig het, hoofsaaklik om handel te dryf. In die tyd van die Romeinse Ryk*, soos ook uit die Nuwe Testament* blyk, is Jode in elke belangrike stad van daardie tyd gevind. Hierdie Jode het Jode gebly – hulle het hulle eie sinagoges* ge­had, soms na Jerusalem* gegaan om ’n fees by te woon, selfs geld vir die tempeldiens byeengebring. Baie van hulle het in hulle aangenome lande welvarend geword. Deur die eeue was daar van tyd tot tyd negatiewe reaksies teen hulle doen en late – die ergste daarvan in die moderne tyd met die uit­wissingspoging van die Nazi’s* tydens die Tweede Wêreldoorlog* toe miljoene Euro­pese Jode in gaskamers en op ander manie­re doodgemaak is. Net ná hierdie oorlog het die Jode tog die geleentheid gekry om uit die verstrooiing na Palestina terug te keer met die totstandkoming van die staat Israel*7 in 1948. ’n Paar miljoen van oor die hele wêreld het die geleentheid gebruik en na hulle “beloofde land” teruggekeer. Miljoene het egter anders besluit en in die diaspora gebly, waar baie van hulle steeds hulle Joodse identiteit in mindere of meer­dere mate behou het, en soms ook ’n belang­rike (politieke) invloed uitgeoefen het – soos byvoorbeeld in die Verenigde State van Amerika. Die terugkeer van die Jode uit die verstrooiing na Israel word deur sommige gesien as ’n teken van die “eindtye”.

 

Sidebar