DIENAAR (DIENSKNEG; SLAAF)

DIENAAR (DIENSKNEG; SLAAF). Die woord “dienaar” vertaal verskillende woor­de in die Bybel* wat verskeie nuanses van vrywillige of gedwonge diens* aan iemand anders weergee. In die antieke wêreld was selfverwesenliking in vryheid die hoogste ideaal, maar Jesus* verwag van sy volge­linge om mekaar se dienaars te wees (Mark 10:43-44). Dikwels beteken dienaar eintlik slaaf*. Dit het ook ander nuanses, soos die nederige selfaanduiding van ’n mindere teenoor ’n meerdere, dikwels met verwy­sing na die koning*, die Here* (1 Sam 3:9; 2 Kon 8:19), of Jesus Christus* (Kol 4:12 – Kyk by: Dienaar van die Here). Soms val die klem meer op nederigheid, positiewe diens en die versorging van iemand anders. So word Jesus self ’n dienaar van die Jode* (Rom 15:8) genoem, terwyl Febe* as dienaar van die gemeente* eintlik ’n “diaken*” was (Rom 16:1). Epafras* is ’n medewerker van Paulus* en ’n getroue dienaar van Christus in belang van die gemeente* (Kol 1:7), hy is dus ’n dienaar van Christus en van die gemeente. As dienaars van Jesus Christus kan gelowiges* nie vir God* én Mammon* dien nie (Matt 6:24). ’n Goeie dienaar van Christus Jesus moet hom/haarself voed met die woorde van die geloof* en die goeie leer (1 Tim 4:6) (Kyk by: Leersuiwerheid*).

 

Sidebar