DIENAAR VAN DIE HERE

DIENAAR VAN DIE HERE. Hierdie frase word ontleen aan die laaste deel van Jesaja* (Jes 40–66) waarin hoofsaaklik vier liedere oor die geheimsinnige figuur, die “Dienaar van die Here*” (Hebreeus: ebed Jahwe*), voorkom: Jes 42:1-9; 49:1-7; 50:4-11; 52:13–53:12; moontlik ook 61:1-11, 51:16. Navorsers verskil oor die vraag of hierdie anonieme persoon ’n enkeling (Moses*, Dawid*, Jesaja*), groep (Israel*), korporatiewe liggaam (die Dienaar is Israel en het ’n verantwoordelikheid teenoor Israel) of kultiese persoonlikheid (die god Tammuz wat sterf en herleef) verteenwoordig. Die passasies verskyn in die omgewing van die nuwe uittog* (Jes 40–55). Dus kon Moses as model vir die figuur gedien het (63:11-14), alhoewel Dawidiese konings ook ’n rol in die Messiaanse (Kyk by: Messias) verwagting gespeel het (Jes 9:5-6; 11:1; 55:3). Daarbenewens is hierdie voorstellings ook vervleg met die drievou­dige amp van koning* (42:1), priester* (53:7-8) en profeet* (61:1). Hy verteenwoordig moontlik ’n funksionele figuur wat verskillende ampte, kwaliteite en take in sy persoon verenig – gode uitgesluit. Twee aspekte word uitgelig: sy toerusting en gestuurdheid. Hy is met die Gees* van God gesalf, ’n onderskeidende kenmerk van die beloofde Messias (Jes 42:1b; 61:1 en volgende verse) en hy sal Israel*/die nasies deur lyding (53:6b, 8b) na God terugbring (Jes 49:5-6).

Aanhalings uit en sinspelings op hierdie figuur in Jesaja kom in die leringe van Jesus* en elders in die Nuwe Testament* voor (bv Matt 8:17; 12:18-21; Mark 10:45; 14:24; Joh 12:38; Rom 10:16; 15:21). Die Lukas*-vertellings (om by een Evangelis te hou) lê beslag op die totale erfenis van Is­rael met die oog op Christus*, maar ver­bind dit veral op vier maniere met sy bele­wenis en verlossingswerk: aankondiging (Luk 4:16-30, veral 18-19, vgl Jes 61:1-2 en 58:6), konfrontering (Luk 22:35-53, vgl Jes 53:12), voltooiing (Luk 23:26-56; vgl Jes 53:7-8 met Hand 8:26-40) en verkondiging (Jes 49:6; Hand 13:47). Ge­deeltes uit Sag 9–13 en sommige psalms, maar veral Jes 53 (wat die duidelikste aanduiding in die Ou Testament* is van ’n lydende dienaar, in offerterminologie be­skryf), maak dit vir die Nuwe-Testamentiese skrywers moontlik om Jesus se lyding en sterwe uit hierdie kontekste as ’n “Dienaar van die Here” (Grieks: pais theou) te verstaan (Matt 12:18; Hand 3:13,26; 4:27,30). Sonder om die Dienaarkarakter prys te gee, het die Nuwe Testament moontlik later meer klem begin lê op Jesus as die “Here” en “Seun van God”.

Vir verdere lees: H Blocher 1975. Songs of the Servant: Isaiah’s Good News. Londen: IVP. HH Grosheide (red) 1978. De Knecht. Studies rondom Deutero-Jesaja. Kampen: Kok. HH Grosheide (red) 1978. De Knecht­gestalte van Christus. Kampen: Kok. DP Moessner (red) 1999. Jesus and the Heritage of Israel. Harrisburg: Trinity.

 

Sidebar