DIENS

DIENS. Die Bybel* ken verskillende woor­de vir diens (Kyk by: Dienaar). In die antieke wêreld wou niemand vrywillig diens lewer nie. Slawe* het meestal in die huis gedien, terwyl vrye loonarbeiders in die landbou of nywerheid gewerk het. Diens word per ooreenkoms gelewer (Gen 30:26), of deur huurlinge (Eks 12:45) en dagloners (Luk 15:17). Slawediens is in Israel* gelewer deur armes (Lev 25:39), mense wat nie hulle skuld kon betaal nie, diewe wat nie restitusie kon doen nie (Eks 22:1-4), of kinders van slawe (Eks 21:4).

In die tabernakel* en tempel* is diens deur Leviete* (Num 3:7–8) en priesters* (2 Kron 8:14) gelewer. Die Griekse woorde latreuein en latreia verwys aanvanklik na diens vir loon, maar in die Septuaginta* en Nuwe Testament* na diens aan God* (Heb 9:9,14) en afgode*. Die woord leitourgein (liturgie*) verwys na kultiese diens en die erediens* (Fil 2:17, 30).

Diens (diakonia) verwys ook na ne­derige, versorgende diens: bediening aan tafel (Luk 10:40; 12:37), vroue* wat Jesus* versorg (Luk 8:3), Jesus se eie diens (Mark 10:45); Paulus* se diens aan gemeentes met geldelike hulp (Rom 15:25, 31), maar veral na sy diens met die evangelie* aan die heidennasies (Rom 11:13). Paulus praat metafories van slawediens (douleuein) aan die wet* (Gal 4:24; 5:1) en aan sonde* (Rom 6:6). Christus* bevry ons hiervan en stel ons in diens van God (Rom 6:18, 22).

 

Sidebar