DIENSJAAR VIR CHRISTUS

DIENSJAAR VIR CHRISTUS. Die NG Kerk* se Jeug-tot-Jeugaksie* van 1974 het ’n groot opwelling van entoesiasme onder die jeug tot gevolg gehad. Die 64 jongmense wat ’n jaar van hulle lewe “gratis” in diens van die kerk gestel het, het die verbeelding van talle aangegryp. Verskeie sendingorganisasies het wel voorheen gebruik ge­maak van die stelsel van (jong) mense wat hulleself vir korter of langer tye voltyds tot beskikking van die Here* stel, maar daar was nog nie iets op hierdie skaal in die NG Kerk gedoen nie. In die evaluering van die aksie, is daar besin oor hoe die impak daarvan voortgesit kan word, sonder om die Jeug-tot-Jeugaksie as sodanig te herhaal. Daar is besluit om dit met kleiner spanne op ’n gedesentraliseerde skaal te doen en dit sterker aan gemeentes en ringe te koppel. Die samewerking van die Afrikaanse Christenstudentevereniging is verkry. Daar is met die Hugenote Kollege* ooreengekom om aan hierdie persone en spanne ’n basiese opleiding en toerusting te gee voordat hulle na gemeentes en skole uitgestuur word. Die eerste paar jaar het nagenoeg 100 jongmense jaarliks hieraan meegedoen, maar gaandeweg het die belangstelling afgeneem.

 

Sidebar