DIERE VAN DIE BYBEL

DIERE VAN DIE BYBEL. Die belang­rikheid van diere binne die ekologie (Kyk by: Ekologie en godsdiens) blyk volgens die Bybel* uit die prominente plek wat in die skeppingsverhaal en sondvloedverhaal aan diere gegee word. Die basiese klassifikasie van diere word in Gen 1 gegee volgens die volgor­de van die skeppingsdae, naamlik waterdiere, voëls en landdiere, wat in vers 24-25 onderskei word in mak diere, kruipende diere (insekte en reptiele) en wilde diere. Behalwe vir algemeen bekende soorte en dié wat dikwels genoem word, is die identifikasie van benamings van diere in die Hebreeuse* teks soms moeilik en onseker (vgl Lev 11 in die 1933/1953- en 1983-vertalings). Afgesien daarvan dat sommige spesies uitgesterf het, is ander wat genoem word, nie inheems aan Palestina* nie, bv trekvoëls. Hoewel daar dikwels na ivoor verwys word, het olifante nie daar voorgekom nie, maar wel in Noord-Sirië.

In Lev 11 en Deut 14 word alle diere in terme van rein en onrein verdeel (vgl Gen 7; Kyk ook: Rein en onrein). Die eet van onrein diere sou die mens ongeskik maak om aan die godsdiensoefening deel te neem. Dit is nie vir ons vandag meer presies duidelik op grond waarvan spesifieke diere as onrein beskou is nie. Die feit dat sommige van die diere deur heidennasies as offerdiere gebruik is, het wel ’n bepalende rol gespeel. Ander redes vir die klassifikasie mag verband hou met higiëniese oorwegings, soos in die geval van aasvreters, of gewoonweg die voorkoms van sekere spesies wat mense afgestoot het. In Egipte*, byvoorbeeld, het diere soos die krokodil, slang*, hond en ibis gode verteenwoordig of magiese funksies gehad. So iets is nie by Israel* aangetref nie. Of die diere waarmee Jakob* in Gen 49 van sy seuns vergelyk, die totemdiere van die verskillende stamme verteenwoordig, is bykans onmoontlik om te sê.

In Gen 1 word die mens verantwoordelikheid vir die hele diereryk gegee, maar kry eers volgens Gen 9 die reg om diere as kos te gebruik. Die Bybel dui aan hoe sekere diere met verloop van tyd in diens van die mens gestel is.

Vir lewensonderhoud was jag van wild aanvanklik ’n belangrike bron van kos. Veeteelt het deur die eeue belangrik gebly; dwarsdeur die Bybel lees ons van vee­wagters. Skape en bokke het wol en haar vir die maak van kledingstowwe verskaf. Saam met beeste het hulle melk as stapelvoedsel voorsien. Volgens Gen 32:15 het ook kamele melk voorsien, waarvan dikmelk en kaas gemaak is. Beeste, skape en bokke is slegs by spesiale geleenthede, soos feeste*, en vir belangrike gaste geslag. Wanneer hulle as offerdiere gebruik is, het hulle vleis ook as kos gedien. Uit opgra­wings blyk dat huise soms so gebou is dat kleinvee onder die slaapruimte van die gesin gehuisves is. So het hulle in die winter gehelp om hitte te verskaf. Die velle van beide wilde en mak diere is vir kleding en die maak van tente, onder andere ook die tabernakel*, gebruik.

As werkdiere is die donkie veral as ver­voermiddel en rydier gebruik. Die kameel is ook vir vervoer en ry gebruik, maar word veral in verband met ander volke genoem. Osse en donkies is as trekdiere vir waens en ploeë gebruik. Jes 1:3 verwys na hulle ge­hegtheid aan hulle eienaar. Perde is vroeg deur Egiptenare as trek- en rydiere gebruik en is eers in die koningstyd deur Israel gebruik. Hulle dien dikwels as simbool van mag, omdat hulle meestal militêr aange­wend is of deur konings gebruik is. Job 39:22-28 besing die kwaliteite van die perd in oorlog. Arabiese groepe het ook kamele in oorlog gebruik.

In die godsdiensoefening is veral skape, bokke, beeste en duiwe as offerdiere gebruik. By sekere soorte offers* is hulle vleis ook seremonieel geëet. Net top kwaliteit diere is geoffer. Omdat varke en honde in Kanaänitiese* offers gebruik is, is hulle deur Israeliete as besonder afskuwelik beskou (Jes 66:3).

Van huisdiere (buiten skape, wat dikwels name gehad het, en bokke) is daar in die Ou Testament* nie sprake nie. Honde word deurgaans negatief geteken en het waar­skynlik wild in die omgewing van mense gebly, teenoor Egipte waar hulle ’n koninklike lewe gehad het. Die verwysing na huishonde kom eers in die Nuwe Testament* in verband met die Siro-Fenisiese vrou voor. Daar word ook eers in die Nuwe Testament na hoenders verwys. Duiwe is makgemaak en aangehou.

’n Groot verskeidenheid roofdiere word in die Bybel genoem. Leeus was blykbaar volop. Verskeie terme word gebruik, wat leeumannetjies en -wyfies op verskillende ou­der­domme aandui. Hulle gebrul was vreesaanjaend en daar word dikwels van hulle groot tande gewag gemaak. Leeus het ’n bedreiging vir mens en kleinvee ingehou en daarom is  hulle gejag. In Babilonië* is leeus in kuile aangehou, soos dié waarin Daniël* gegooi is. Hulle is be­skou as simbole van dapperheid en konink­likheid (Job 39:1-2). Bere word saam met leeus genoem en is gevrees vir hulle aggressiwiteit en krag (Spr 28:15). Dawid* moes ook die kleinvee teen bere beskerm. Hulle is ook gesien as werktuie van God se oor­deel. Daar word slegs in metafore na die luiperd verwys, veral dat hy in sy skuilplek op prooi lê en wag. Hab 1:8 verwys na die spoed van die luiperd en Jer 13:23 noem dat hy nie sy kolle kan verander nie. Verskeie soorte jakkalse word in die Ou Testament genoem, hoewel dit onmoontlik is om te weet watter dit presies was. In metafore word na hulle geslepenheid verwys en dat hulle in verlate plekke gehou het. Dieselfde word van boskatte en wilde honde gesê (Jes 34:13-14). Wolwe word as skelm en gevaarlike veediewe geteken (Matt 10:16).

Onder wildsoorte word hase slegs in lyste van onrein diere vermeld. Verskeie boksoorte word genoem. Omdat hulle rein diere was, is hulle dikwels gejag vir vleis en velle, soos in die Jakob-Esau*-verhaal. Die ribbok en takbok was gesogte kos (Deut 15:22). Die metafore waarin wildsbokke voorkom, is feitlik altyd positief. Die bruide­gom in Hooglied* word met ’n ribbok (gemsbok volgens die 1933/1953-vertaling) en met ’n takbok vergelyk op grond van sy grasie en waarnemingsvermoë. In Spr 5:19 is hulle die simbool van ’n vrou se liefde. Gen 39:21 vergelyk Naftali met ’n takbok oor sy vryheid en vrugbaarheid. Ps 18:34 praat van die ribbok wat in die berge woon, maar Ps 104:18 gebruik ’n ander woord wat klipbok of steenbok (1933/1953-vertaling) kan beteken. Job 39:4-7 beskryf die instinktiewe gedrag van die klipspringer. Die wildsbok is ook simbool van smagting en afhanklikheid, soos in tye van droogte (Ps 42:2). Die veldgode, of veldduiwels (Jes 34:14), verwys dalk na ’n harige bok wat wild in verlate plekke gebly het. Volgens die teks word hulle saam met boskatte en wilde honde (1933/1953-vertaling) of hiënas (1983-vertaling) aangetref. Die wildedonkie word in Job 39:8-11 besing, maar die profete* verwys in negatiewe metafore daarna. Die ontembaarheid van die buffel om as werkdier gebruik te word, word in Job 39:12-15 beskryf. In metafore word dikwels na sy besondere horings as teken van krag verwys.

Klein velddiere soos muise en molle is as onrein beskou en hulle word in Lev 11:29 saam met reptiele geklassifiseer. Molle kom egter nie in Palestina voor nie en die 1983-vertaling gee in Jes 2:20 die term met “rot” weer. Ook dassies is as onrein beskou, maar is tog geag vir hulle oorlewingsvernuf (Spr 30:29). Ons weet dat vlermuise soogdiere is, maar die Israeliete het hulle saam met gevleueldes geklassifiseer. Hulle was ook onrein en is met situasies van onheil geassosieer (Jes 2:20).

’n Groot verskeidenheid voëls word in die Bybel genoem. Palestina lê op die trekroete van verskillende soorte voëls tussen Afrika en Europa, asook Wes-Asië. Trekvoëls soos die trekooievaar (sprinkaanvoël volgens 1933/1953-vertaling), swaeltjie en kraanvoël word in Jer 8:7 geroem omdat hulle hulle trektye so goed ken. Die ooie­vaar (1983-vertaling sê reier) word in Ps 104:17 geroem omdat sy haar nes veilig in die toppe van die seders maak; so ook die swaeltjie en mossie wat selfs in die tempel hulle neste maak (Ps 84:3). Ook flaminke, pelikane en swane (die term is onseker) word in die lyste van onrein voëls genoem. Ps 102:7 verwys dalk na ’n woestynpelikaan. Roofvoëls, soos aasvoëls, arende en valke van verskillende soorte, is almal as onrein beskou (Lev 11:13-19). Die berugtheid van aasvoëls om op die ondergang van andere te teer, kom in die aangehaalde spreek­woord in Matt 24:28 na vore (vgl Jer 49:22). Die arend, daarenteen is geroem vir haar sorg vir haar kleintjies, haar krag en spoed (Deut 28:49; 32:11). Die arend was ook die simbool van heerskappy en mag, soos in Eseg 17:3, 7 van die konings van Egipte en Babel, by wie dit nasionale simbole was. Die arend dien ook as simbool van een van die lewende wesens voor die troon van God in Eseg 1:10 en Op 4:7. Die valk word, naas ander diere, in Job 39:29-33 besing as bewys van hoe God se wysheid in die skepping openbaar word. Dit is nie moontlik om die vyf verskillende terme vir uile in die Bybel te identifiseer nie. Dikwels word hulle saam met ander diere en voëls wat in verlate en grillerige plekke hou, genoem (Jes 34:11). Alhoewel daar na kraaie in negatiewe terme verwys word, was hulle ook funksioneel in diens van die mens, soos in die Noag*- en Elia*-verhale. Ook die volstruis is as onrein beskou, omdat dit soms slange en ander reptiele eet. Job 39:16-21 beskryf die gedrag van die volstruis treffend.

Onder eetbare wilde voëls is kwartels, wat in groot swerms voorkom en maklik gevang kon word, die bekendste, maar word net in verband met die woestynverblyf vermeld (Ps 105:40). Patryse is gejag (1 Sam 26:20), en dalk ook fisante (Jer 17:11). Mossies het selfs ’n vasgestelde prys gehad (Matt 10:29). Beide tortelduiwe en krans- (bos-) duiwe is as offers, veral deur die armes (Lev 5:7), en vir kos gebruik. Duiwe is ook mak gemaak. Duiwe was simbool van skoonheid, teerheid en sorg (Hoogl 5:12; 5:2), onskuld (Matt 10:16) en van ’n nuwe toekoms (Gen 8:8-12). Neh 5:18 verwys waarskynlik na wilde hoenders. Teen die tyd van die Nuwe Testament was huishoenders reeds ’n bekende verskynsel (Matt 23:37; 26:34). Ganse was ten minste in die hofhouding van Salomo reeds stapelvoedsel (1 Kon 4:23).

Onder insekte is bye die belangrikste, omdat heuning as kos vir genieting (maak of geur van wyn Spr 5:1?) en medisinaal gebruik is (Spr 16:24). Die gevaar van ’n by-aanval was spreekwoordelik (Ps 118:12). Nog meer gevrees was die steek van perdebye (Deut 7:20, 1933/1953-vertaling). Sprinkane, wat verwoesting aan landerye en boorde aanrig en so lewensmoontlikhede vernietig het, was ’n bekende simbool van oordeel (Joël 1:4-11). Verskeie soorte sprinkane word vermeld. Lev 11:20-23 onderskei tussen dié wat rein en dié wat onrein is. Ook muggies en steekvlieë is as plae ervaar (Eks 8:16-32). Vlieë was ’n huishoudelike plaag wat kos en salf bederf het (Eks 16:24; Pred 10:1). Vlooie, motte, luise (as alternatief vir steekvlieë in Eks 8:17), kewers en ’n verskeidenheid soorte larwes, wurms en ruspes word in die Bybel genoem. Wurms het konnotasies met ontbinding, en om ’n mens met ’n wurm te vergelyk, was erg vernederend (Job 25:6). Alhoewel 31 soorte miere in Palestina voorkom, word die mier net in Spreuke (6:6-8, 30:25) genoem, waar dit geroem word vir hardwerkendheid en voorsiening vir die toekoms, sonder ’n aanvoerder wat hulle aanspoor. Tussen 600 en 700 soorte spinnekoppe het voorgekom. Spinnekoppe word net as simbool van broosheid en onbestendigheid genoem (Job 8:14-15). Skerpioene was ’n dodelike gevaar en is in albei testamente met bose teenmagte geassosieer (Op 9:3, 5, 10). Alhoewel die skarlakenwurm nie self genoem word nie, is daar volop verwysing na die items wat ge­kleur is met die gesogte kleursel wat van hulle gemaak is.

Onder reptiele is slange die prominent­ste. Nege Hebreeuse terme word gebruik en het deurgaans ’n negatiewe konnotasie (Kyk by: Slang). Slange was belangrik in die Egiptiese en Kanaänitiese godsdiens en die verwysing na ’n vlieënde draak (Jes 14:29) het waarskynlik mitiese konnotasies. In Job 40:20 word die krokodil (Hebreeus “leviatan”) vir sy krag en onoorwinlikheid besing. Al die klein reptielsoorte is as on­rein beskou (Lev 11:29-31).

Terwyl waterdiere in Gen 1 ’n belangrike deel van die skepping uitmaak waaroor die mens heerskappy gegee is, is daar in die res van die Ou Testament nie besonder baie sprake daarvan nie. Visse, wat volop in die See van GalileaH voorgekom het, was blykbaar so ’n stapelvoedsel dat een van Jerusa­lem se poorte die Vispoort genoem is. Visse in riviere word net in verband met Egipte genoem (Eseg 29:5). In die Ou Testament is visvang simbool van God se oordeel (Jer 16:16); in die Evangelies* word dit simbool van die uitbreiding van God se koninkryk (Matt 4:19). Wat die “groot vis” was wat Jona ingesluk het, bly moeilik om te identifiseer. Volgens mitologieë van dié tyd het daar seemonsters in die diepsee gebly wat ’n bedreiging vir seevaart ingehou het, maar volgens Ps 104:26-29 sorg God juis ook vir hierdie “leviatan”. Hulle was ook simbool van vyandige magte (Jes 27:1). In die apokaliptiese (Kyk by: Apokaliptiek) tekste van Dan 7 en Op 12–13 word die simboliek van hierdie draakagtige figure verder gevoer totdat dit Satan* self verteenwoordig (Op 20:2). In Egipte, waar paddas ’n simbool van nuwe lewe was, maak God dit ’n plaag. In Op 16:13 simboliseer paddas onrein geeste. In Job 40:10-19 word die krag van die seekoei, wat in die moerasgebiede voorgekom het, besing. By die vervaardiging van die tabernakel is sprake van robbevelle, wat beteken dat robbe gejag is.

Sidebar