DIEREREGTE

DIEREREGTE. Mense het baie lank gedink dat alles in die natuur “vry” was vir gebruik en dat diere sonder beperking geskiet en gevang kon word. Só is sommige diersoorte wreed behandel, verminder en selfs uitgewis. Vandag word sterk weerstand hierteen gebied.

Ook het die herwaardering van geselskapsdiere in postmoderne* gemeenskappe die aandag op diereregte begin vestig, asook op diere wat onder dwang en “on­dierlike” omstandighede aangehou word vir produksiedoeleindes om in mens­like behoeftes te voorsien; diere wat in wrede sportsoorte gebruik word om teen mekaar te veg vir menslike plesier; diere-eksperimente ter wille van navorsing; die aanhou van (eksotiese) diere in dieretuine, en onbillike dierebeheer.

Daar is ook ’n geloofsfaset wat die regte van diere na vore bring. Nie net die verhouding van mens* tot mens besit ’n geloofsdimensie nie, maar ook dié van die mens tot die skepping*, insluitend diere. Die Skrif* plaas egter die mens deurgaans in ’n meerdere posisie ten opsigte van die dier.

Die basiese regte waaroor diere beskik, word algemeen gesien as die reg op lewe, die reg op versorging en die reg op vryheid van beweging.

Sidebar