DINGANE KASENZANGAKHONA

DINGANE KASENZANGAKHONA (circa 1795–1840) het in 1828 Zoeloe-koning geword ná sy en Mlangana se sluipmoord­aanval op Shaka*, Dingane se despotiese halfbroer.

Dingane se optrede teen die Voortrek­kers* is meegebring deur verskeie faktore: sy bewind het die militêre mag van die Zoeloe-nasie verswak; hy het witmense gewantrou vanweë die Britse handelaars in Port Natal se weiering om vuurwapens aan hom te verskaf; sy agterdog is versterk deur sy Xhosa-tolk, Hlambamanzi, wat hom gewaarsku het teen blanke vestiging in sy gebied. In hierdie omstandighede het Piet Retief* met Dingane oor grondgebied be­gin onderhandel toe laasgenoemde reeds bewus was van die oortuigende oorwinning van die Voortrekkers teen die Mata­bele-leier Mzilikze, asook die Voor­trekkers se gevegsmetodes, perde en gewere wat alles vir hom vreemd was. Dingane het gevolglik die naïewe en dikwels koppige Retief en sy geselskap van sowat 100 Voortrekkers en bruin agterryers by sy groot Umgungundlovu-kraal uitgewis met die samewerking van sy induna’s (ibandla). Dit is later dieselfde maand opgevolg deur verrassingsaanvalle op verskeie Voortrekkerlaers. Dit lei uiteindelik tot die Voortrekkers se beslissende oorwinning met die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 (Kyk by: Celliers, Sarel Arnoldus*, en: Geloftedag*). Hoewel Din­gane in aanraking was met sendelinge soos Alan Gardiner en Francis Owen en goed­gekeur het dat hulle onder die Zoeloes arbei, is daar geen aanduiding dat hy sy tradisionele geloof laat vaar het nie. (Kyk ook by: Zoeloes en die Christelike geloof.)

Vir verdere lees: JS Bergh 1984. Stamme en ryke. Kaapstad: Don Nelson. HJ van Aswegen 1989. Geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Academica.

Sidebar