DIOSKURI

DIOSKURI was die Aleksandrynse skip waarmee Paulus* van die eiland Malta na Puteoli, Italië, geseil het onderweg na Rome* (Hand 28:11-15). “Dioskuri” behels twee Griekse woorde, dios (van Zeus) kouroi, en beteken “seuns van Zeus”. Dit verwys na Kastor en Polluks, tradisioneel die tweelingseuns van Zeus*, oppergod van die Griekse gode, maar ook beskou as Tindareus, die koning van Sparta se seuns. Kastor was ’n kranige strydwadrywer en Polluks ’n bokser. Hulle is veral vereer as die beskermgode van matrose, en daarom geïdentifiseer met die twee hoogste sterre in die Tweeling-sterrebeeld. Daarom het skepe dikwels die dioskuri-teken op die boeg, seile of sykante gedra.

Sidebar