DISKRIMINASIE

DISKRIMINASIE beteken die doelbewuste onderskeid in behandeling van ’n persoon met die doel om die persoon se menswaardigheid aan te tas en die persoon te ontneem van dieselfde geleenthede en voorregte as wat ander mense geniet. Een mens/groep mense word dus opsetlik verskillend van ander mense/groepe mense behandel. Hiermee word die menswaar­dig­heid van die indiwidu aangetas omdat ander maatstawwe as die heersende of aanvaarbare norm wat vir ander mense geld, op iemand toegepas word. Diskriminasie kom neer op tweedeklas-behandeling en druis teen die wese van ’n mens se mens­waardigheid en menseregte in. Etniese, ras­se-, geslagtelike, kulturele, godsdienstige, politieke, ekonomiese, sosiale en intellektuele oorwegings is die belangrikste redes waarom teen mense gediskrimineer word. Diskriminasie tas in wese die beeld van God en sy skepping* aan. Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Luk 10:25-37) is nie net ’n gelykenis oor naasteliefde nie, maar ook ’n voorbeeld van menswaardige behandeling en hoe nié teen iemand gediskrimineer mag word nie – ongeag wie en in watter om­stan­dighede die persoon is. ’n Nie-diskrimi­nerende benadering neem onder meer in ag dat niemand minderwaardig behandel moet word nie, dat almal (ongeag ras, ge­slag, kultuur, ensovoorts) gelyke geleent­hede moet hê, en dat erkenning aan mense gegee moet word vir wat hulle gedoen en vermag het. Dit is belangrik om daarop te wys dat ’n persoon se trots vir byvoorbeeld sy kultuur nie diskriminasie teen ander kulture is nie. Dit word diskriminasie wanneer die persoon se kultuur ten koste van ander persone se kultuur beoefen en bevorder word. ’n Akte van menseregte waarin die beskerming van basiese mens­waardigheid ingeskryf word, behoort te waarborg dat diskriminasie nie teen iemand se persoon, geestesgoedere en omstandig­hede mag plaasvind nie. Enige vorm van diskriminasie moet ten sterkste afgekeur word omdat dit teen alle Christelike en sosiaal-etiese waardes indruis.

Sidebar