DISPENSASIONALISME

DISPENSASIONALISME berus op die veronderstelling dat God se bemoeienis met die mens geskied aan die hand van duidelik afgebakende tydperke of dispensasies. Binne elkeen van hierdie tydperke voltrek God ’n spesifieke doelwit met die mens, waarop die mens in geloof* of onge­loof reageer.

Twee figure speel ’n groot rol in die sistematisering van moderne dispensasiona­lisme: JN Darby (1800–1882) en CI Scofield (1843–1921), veral bekend vir sy Scofield-Naslaanbybel (1909) waarin hy sewe sulke tydperke aandui. Volgens dispensasiona­liste leef ons tans in die voorlaaste tydperk, dié van die kerk* (genade*), vanwaar ons die duisendjarige vrederyk* (finale dispensasie of millennium – vandaar millennialisme*) afwag.

Dispensasionaliste bedryf ’n eiesoortige Bybelse* hermeneutiek* wat van die veronderstelling uitgaan dat God sy plan met die geskiedenis uitwerk in twee parallelle sfere, naamlik ’n “aardse”, wat betrekking het op Israel* en waar die wet* geld, en ’n “hemelse”, wat betrekking het op Christus* en die kerk en waar genade* geld. Bybelse profesieë moet feitelik histories vertolk word aangesien dit in verband gebring word met Israel*, en dus aardse, letterlike vooruitskouings is. Hieruit volg ’n sterk pre-millenniale klem op die vervulling van hierdie profesieë as voortekens van die duisendjarige vrederyk*. Hulle handhaaf ook ’n negatiewe en separatistiese siening jeens ’n “aardse” institusionele kerk.

 

Sidebar