DISSIDENT

DISSIDENT is iemand wat teen die hoofstroom inbeur en hoorbaar anders as die meeste mense van sy of haar groep dink. Hulle is gewoonlik in hulle eie groep baie ongewild. Hulle sleep mense uit hulle heilige huisies, skep diesulkes se gemaksones in ongemaklike plekke om, dwing luies om te dink en wys diegene wat verslaaf daaraan is om reg langs die politieke vuur te sit, daarop dat hulle hulleself kan verbrand. Die uiterste voorbeeld is waarskynlik die Ateense filosoof, Sokrates. Omdat die Ateners nie van sy knaende, lastige vrae gehou het nie, het hulle hom gedwing om die gifbeker te ledig. In sy verdedigingstoespraak in sy hofsaak het hy onder meer gesê: “’n Ongeëksamineerde lewe is nie die moeite werd om te lewe nie” – as hy wat Sokrates was dan nie dinge om hom heen krities kon benader nie, kon hy net sowel nié lewe nie. Onder Afrikaner*-dissidente van die 20ste eeu tel mense soos Johannes du Plessis*, Bennie Keet*, Ben Marais*, Johannes Degenaar*, Nico Smith*, Albert Geyser*, Beyers Naudé*, Jaap Durand*, Sampie Terreblanche, André P Brink*, Elsa Joubert*, Willie Esterhuyse*, selfs in ’n stadium Piet Cillié*, Schalk Pienaar en Rykie van Reenen*.

 

Sidebar