DISSIPEL

DISSIPEL. Dié woord kom net 24 keer in die 1983-Afrikaanse vertaling van die Bybel* voor en hou verband met discipulus (Latyn) wat in Grieks mathetes (leerling) is. Die Griekse woord kom 261 keer in die Nuwe Testa­ment* voor, maar ’n ooreenstemmende woord kom nie baie in die Ou Testament* voor nie (vgl Jes 8:16 “volgeling”, 1 Kron 25:8 “leerling”). Tog lees ons van “leerlinge” van Samuel*, Elia* en Elisa*. In die Nuwe-Testamentiese tyd het rabbi’s* (soos Paulus* en Gamaliël*) leerlinge gehad. Die Jode* word ook dissipels van Moses* (Joh 9:28) genoem. “Volgeling” in Matt 9:14 kan ook met “dissipel” vertaal word.

Jesus* was nie ’n amptelik-erkende rabbi nie (Joh 7:14,15), tog word Hy “Rabbi” genoem en sy leerlinge “dissipels”. Al Jesus se volgelinge word dissipels genoem (Luk 6:13; 19:37), maar dikwels verwys dissipels na die kleiner groep, “die twaalf” (Matt 10:5), of die “twaalf apostels*” (Matt 10:2; Mark 3:14). ’n Beroemde rabbi is gewoonlik deur mense wat sy dissipels wou word, opgesoek, maar Jesus roep mense om sy dissipels te word (Mark 10:21; Luk 9:57-62).

Jesus se laaste opdrag aan die elf dissipels is om dissipels te maak (Matt 28:19). In Hand 6:1 word lede van die Vroeë Kerk* as dissipels aangedui. Buite die Evangelies* en Handelinge* kom “dissipels” nie in die Nuwe Testament voor nie; “gelowiges*” word met ander terme aangedui. (Kyk ook: Dissipelskap.)

Sidebar