DOBBELARY

DOBBELARY. Onder dobbelary (en lottery*) word ’n kansspel verstaan waar geld gewaag word en “geluk” of “toeval” die bepalende rol speel. In die voortgaande debat wys voorstanders onder andere op die stimulans van dié bedryf vir die lands­ekonomie; werkgeleenthede wat dit skep; die inkomste vir die staatskas by wyse van belastings; en die befondsing, deur staats- en ander loterye, van vele verdienstelike sake. Opdragte oor hierdie saak vir ons tyd word nie direk in die Bybel* gevind nie. Die gebruik van loting* (in onderskeiding van lotery) lê op ’n ander vlak, naamlik om in biddende opsien na God ’n beslissing te verkry (1 Sam 23:10; Hand 1:24-26). Vir ’n verantwoorde beoordeling waarin Bybelse gronde wel rigtinggewend is, kan die volgende oorwegings geld: Uit die oogpunt van arbeidsetiek versteur dobbelary die gesonde balans van sinvolle arbeid en billike loon; dit stimuleer die mens se natuurlike geldgierigheid (vgl Luk 12:15; Jak 1:14-15), wat op sy beurt onversadigbaar na allerlei ander begeertes kan uitkring; die verslawende uitwerking daarvan kan uiters negatiewe gevolge vir die betrokkene se verhoudingslewe hê; en veral: die risiko dat die geloofsfokus verskuif van God wat sorg (Fil 4:6-7, 19) na blinde magte (geluk, toeval, lot) waaraan die hart in ’n afgodiese verbintenis begin kleef (Eks 20:3).

Vir verdere lees: V Abt 1996. “Gambling” in: PB Clarke en A Linzey (red), Dictionary of Ethics, Theology and Society. Londen en New York: Routledge. DA du Toit 1977 Lotery, arbeid en geloof. Pretoria: NGKB. C Steenkamp 1997 “Dobbelary en loting” in: L Hulley en C Jones (red), Wonder jy ook oor …? Kaapstad: Lux Verbi.

Sidebar