DODD, CHARLES HAROLD

DODD, CHARLES HAROLD (1884–1973), ’n non-konformis uit Wallis, studeer in Berlyn en Oxford en word tot die Kongregasionalistiese* be­diening toegelaat (1912). Hy doseer aan Mansfield Colle­ge (Oxford) en Manchester. Hy is die eerste Norris Hulse-professor te Cambridge (1935 tot sy aftrede 1949) sedert 1660 wat nie lid van die Church of England* was nie. Daar­na keer hy terug na Oxford en skryf nog vir 25 jaar boeke oor Johannes* en is die hoofredakteur van die New English Bible. Op die ou­derdom van 86 het hy sy laaste boek ge­publiseer.

Dodd is die leidende Britse Nuwe-Testa­mentiese* geleerde van die 20ste eeu. Sy publikasies oor Nuwe-Testamentiese agtergrond, gelykenisse*, die Evangelies*, Johan­nesbriewe*, Romeinebrief*, Bybelse teolo­gie*, asook “gerealiseerde eskatolo­gie*” is baie bekend. Die koningsheerskappy van God (Kyk ook: Koninkryk van God) sê Dodd, breek reeds in Jesus* se historiese bediening aan. Daar sal volgens hom nie nog ’n koms van die Seun van die Mens* in die toekoms plaasvind nie. Verwysings na die toekoms, meen hy, is óf doelbewus simbolies, óf net deel van die tradisie van die Vroeë Kerk*.

Sy belangrikste boek is oor die Johannes-Evangelie* (1953) en verskyn ná sy aftrede. Hy meen dat die Evangelie volgens Jo­hannes op betroubare tradisies (onafhanklik van die Sinoptiese Evangelies*) berus. Ons kennis van Jesus berus op geloofsdokumente, skryf Dodd, maar nietemin op feite.

 

Sidebar