DODERYK

DODERYK. Die Hebreeuse* begrip sjeool (Grieks*: hades) dui die sfeer, die magsgebied, van die dood* aan. In wisselende voorstellings van digterlik-beeldende aard (nie as presiese omskrywings bedoel nie!) word daarna verwys as ’n onderaardse diep­te, ’n groef, ’n kuil, ’n toestand van duis­ternis, wanorde, vergetelheid (Job 10:21-22; 38:17; Ps 86:13; Eseg 26:20; vgl ook die 1933/1953-vertaling). Eerder as ’n “be­staan” ná die dood, is dit vir Israel* juis die tééndeel van die léwe*. Die eintlike verskrikking wat die doderyk inhou, lê daarin dat die vreugde en seën van gemeenskap met God en medemens ontbreek; dáár kan niemand God se lof en liefdestrou besing nie (Ps 16:5-11; 88:4-13; Jes 38:9-11, 18-19). Alhoewel Jesus* vir onderrigdoeleindes by destydse beskouings aansluit (Luk 16:19-31), word alle voorstellings oor die doderyk radikaal omvorm namate die volle betekenis van sy opstanding deurdring. Ná Pase* kan selfs die dood ons nie meer van Hom skei nie (Rom 8:38-39). Paulus verlang na die “wins” om heen te gaan en met Christus* te wees (Fil 1:21-23; vgl 2 Kor 5:1-8). Die opgestane Here* het die sleutels van doderyk en dood (en het volle beskikkingsmag daaroor, Op 1:18), en met sy wederkoms* word ook hierdie laaste vyand vernietig (1 Kor 15:26, 54-57; Op 20:14).

Vir verdere lees: GE Ladd 1975. “Escha­tology” in: JD Douglas (red), The New Bible Dictionary. Londen: IVP. A Richardson 1979. “Hell” in: A Richardson (red), A Theological Word Book of the Bible. Londen: SCM.

 

Sidebar