DOGMATIEK

DOGMATIEK is die vakgebied wat hom besig hou met die sistematisering van die geloofswaarhede in die Heilige Skrif*. Dit spreek vanself dat die dogmatiek ’n sterk konfessionele (belydenis-*2) inslag sal hê. Nie net aan kerklike kweekskole nie, maar ook by universiteite word dogmatiek hoofsaaklik aangebied vir teologiese studente van ’n bepaalde teologiese tradisie: Gereformeerd*, Luthers*, Katoliek*, Pentekostalisties* of wat die geval ook al mag wees.

Die gereformeerde dogmatiek sluit histories sterk aan by die teologiese nalatenskap van Johannes Calvyn*, alhoewel die bydrae van ander figure uit die tyd van die Kerkhervorming*, soos Zwingli*, Beza* en Bullinger*, ongetwyfeld belangrik is. Ken­merkend van die gereformeerde tradisie is sy beroep op die gesag van die Bybel* as Woord van God, wat die norm vir leer en lewe is. Die sogenaamde solismes is tipe­rend van die gereformeerde dogmatiek: sola Scriptura, sola gratia, sola fide en solus Christus (net die Skrif, net genade, net geloof en net Christus). Daarmee saam word die volledige soewereiniteit van God, die algehele verdorwenheid* van die mens as gevolg van die sondeval*, die uitverkiesing* tot die ewige lewe, en die genadeverbond* sterk benadruk.

Die dogmatiek word tradisioneel onder­ver­deel in ’n aantal loci of temas, waar die volgende gewoonlik in gereformeerde kring aan die orde kom: die openbaring*, die Heilige Skrif*, die Godsleer, die uitver­kiesing*, die skepping*, die mens as beeld* van God, die voorsienigheid* van God, sonde*, die verbond*, die Christologie*, die Heilige Gees* en sy werk, die genademiddele, die kerk* en die eskatologie*.

 

Sidebar