DOMINIKANE

DOMINIKANE. Dominicus (1170–1221) is in Calaroga in Spanje gebore. Hy het sy opleiding vir die priesterskap (Kyk by: Priesters2) by die Uni­ver­siteit van Palencia ontvang (vandag die Universiteit van Salamanca). In dié tyd van die kerk* se geskiedenis was die kettery* van Albigenses in die suide van Frankryk en in die noorde van Spanje sterk verbrei. Hy het geglo dat Christus* net ’n engel* was en dat Hy daarom nie aan die kruis gesterf het nie. Vir Albigenses en sy volgelinge was die liggaam boos en die huwelik* is ontmoedig. Dominicus het toestemming van pous* Innocentius* III gekry om teen dié kettery* te preek. Gou het ander mense hulle by hom aangesluit en in 1216 het pous Hono­rius III toestemming aan Dominic gegee om die Ordo Praedicatorum (OP = Orde van Predikers = Dominikane) te stig. Hulle kleredrag was ’n wit kleed met ’n lang, swart dekmantel (daarom word hulle ook die Swart Monnikke genoem) en hulle het hulle aan studie (hulle motto is Veritas) en preek toegewy. Twee range van nonne is ook ge­stig. Die eerste is afgeklooster om hulle aan gebed te wy, terwyl die tweede aktief by die opvoedkunde betrek is. Van die bekendste Dominikane is Albertus Magnus, Thomas van Aquino*, Meister Eckhardt*, Katerina van Sienna, Rose van Lima en Margarita van Hongarye.

Sidebar