DONATUS

DONATUS (circa 311–355), biskop van Kartago, staan as die stigter van die Donatisme* bekend – die eerste onafhanklike kerklike beweging in Afrika*. Dit het baie van die karaktertrekke vertoon wat later tipies van die Afrika-Onafhanklike Kerke* sou word. Dit het met ’n sterk Afrika-stempel in duidelike opposisie teenoor die Katolieke Kerk* van die tyd en die keiser* van die Romeinse Ryk* gestaan. Die groot oorsaak van die ongelukkigheid was die behandeling van en optrede tee­n­oor diegene wat hulle geloof gedurende die vervolging onder Diokletianus (303–305) verloën het. Sommige het selfs mede-Christene by die Romeinse owerheid verkla en Christelike geskrifte gegee om verbrand te word. Nadat Konstantyn* aan die bewind gekom het, het hierdie priesters*2 weer hulle ou posisies teruggekry en die kerk* het hulle in goeie trou terugontvang. Donatus en sy volgelinge het egter geweier om die sakramente* uit die hand van sulke “lafhartige” priesters te ontvang en hulle bestempel as uitverkopers (traditores: men­se wat ander oorgegee het). Konstantyn het probeer vrede maak en ’n konsilie* by­eengeroep, maar hulle het die besluite van die konsilie, wat uit ’n groot aantal “uitver­kopers” bestaan het, nie aanvaar nie. Hulle beklemtoon die heiligheid (Kyk by: Heilig)  van hulle biskoppe*. Hulle het uiteindelik sterk teenstand van Augustinus* gekry.

Sidebar