DOOD

DOOD. In mitologiese verhale wat dateer uit die Neolitiese Periode (8000–4000 vC) is die god van die dood dikwels dieselfde god as dié van die oes/die lewe. Hierdie verhale wys daarop dat die lewe en die dood onaf­skeidbaar ineengestrengel is. Dit is twee kan­te van dieselfde muntstuk.

Omdat die dood, volgens die Bybel*, “straf” is (bv Gen 3:19), gaan dit in die Bybel juis oor oorwinning oor die dood – en is Jesus Christus* se opstanding* uit die dood presies dít: die dood is deur Hom oorwin, en deur Hom sal ons uiteindelik ook. Dit wil nie sê dat die dood nie nog altyd selfs vir gelowiges vreesaanjaend is nie. Maar vir gelowiges is die dood nie die einde nie. In hierdie verband skryf Paulus* dat “… geen dood of lewe … ons van die liefde van God (kan) skei nie …” (Rom 8:38-39). Op stuk van sake gaan dit oor die liefde van God in Christus waarin ons geborge is: in die lewe met al sy verskrikkings, ook in die dood met sy onsekerhede. Die dood is vir gelowiges die deurgang na ’n nuwe lewe in volle harmonie met God. Soos die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer* gesê het voordat hy op 9 April 1945 in Flossenbürg ge­hang is: “Dit is die einde. Vir my, die begin van lewe.”

Daar is ook lewe vóór die dood. Dikwels lei konfrontasie met die dood tot ’n spi­rituele hergeboorte wat ons kan help om ’n voller lewe op aarde te leef. Hieroor skryf Paulus: “Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak …” (Ef 2:5). Die implikasie van ’n vol lewe in Chris­tus voor die dood, is die afsterwe van die “self” sodat Christus elke dag volkome in ons kan kom.

Vir verdere lees: John W de Gruchy 2013. Led into Mystery. SCM Press: Londen.

 

Sidebar