DOODSTRAF

DOODSTRAF verwys na die gewettigde doodmaak van ’n persoon wat volg op ’n doodsvonnis as straf opgelê deur ’n hooggeregshof vir moord of ander ernstige misdaad. Metodes wat vandag gebruik word, is: ophanging aan ’n galg, die elektriese stoel en ’n gifinspuiting. Dit word vandag in baie minder lande as voorheen toegepas. In Suid-Afrika het die Konstitusionele Hof verklaar dat doodstraf in stryd is met die reg op lewe* wat in die Grondwet van 1996 verskans is.

Kerke* het in die verlede dikwels op grond van Gen 9 en Rom 13 geoordeel dat die doodstraf deur die Bybel* gebied word. Daar is egter vandag ’n groeiende konsensus dat so ’n afleiding nie geregverdig is nie en dat hoogstens gesê kan word dat die Skrif doodstraf toelaat as daar goeie gronde daarvoor is. Daar is egter ook baie Chris­tene wat oordeel dat doodstraf glad nie geregverdig kan word nie. Afgesien van die meer algemene argument dat doodstraf nie werklik as ’n afskrikmiddel dien nie, oor­deel Christelike teenstanders van die doodstraf dat dit in stryd is met die besondere eerbied wat Christene vir alle menslike lewe* behoort te hê, asook met die Chris­telike boodskap van genade* en vergifnis (Kyk by: Vergewing) vir sondaars*, moordenaars en verkragters inkluis.

Vir verdere lees: LB Smedes 1992. Mere Morality: What God Expects from Ordinary People. Grand Rapids: Eerdmans.

 

Sidebar