DOOIE SEE-ROLLE

DOOIE SEE-ROLLE. Die eerste van die Dooie Seerolle is gevind deur Bedoeïene in ’n grot naby Qumran*, in November of Desember 1946. Die gebied was toe onder Jordaniese beheer. Die jong Bedoeïene het in April 1947 die fragmente wat hulle uit die grot gehaal het, in Betlehem na ’n handelaar in oudhede geneem. Hy het die fragmente aan ’n lidmaat van die Siries-Orto­dok­se kerk gegee, wat die stukke na die Siries-Ortodokse klooster van St Markus geneem het. Die aartsbiskop Samuel het dadelik in die stukke belang gestel, maar ’n hele tyd het verloop voordat die belang­rikheid van die fragmente werklik besef is. In November 1947 het prof EL Sukenik die eerste rolle te sien gekry. Hy het die belang­rikheid daarvan besef en het daarin geslaag om in 1948 drie van die rolle te koop. Intus­sen is van die rolle ook aan ander persone aangebied, sodat die belangrikheid van die stukke bekend geword het. Vanaf 1949 is in verskeie ekspedisies verskillende grotte in die omgewing van Qumran ge­vind met ’n groot hoeveelheid manu­skripte en fragmente van manuskripte. Tot in 1956 is 11 grotte gevind, waarvan Grot 1, 4 en 11 die meeste manuskripte bevat het. Ook in die verdere omgewing is grotte met manu­skripte gevind by plekke soos Wadi Murab­ba’at. Spoedig ná die ontdekking is die eerste manuskripte van Grot 1 gepubliseer en verdere publikasies het kort daarna gevolg. In die jare ná 1960 het die spoed van publikasie egter afgeneem, veral ten opsigte van die manuskripte wat in Grot 4 en 11 gevind is. Dit was eers ná 1990 dat die publikasie van die tekste begin het om vlot te verloop, onder die leiding van prof Emma­nuel Tov van die Hebreeuse Universiteit, met die gevolg dat prakties alle tekste teen 2005 gepubliseer is.

Daar is ongeveer 900 manuskripte ge­vind (baie van hulle fragmentaries). Van besonder groot belang is die tekste van die Bybel* (Ou Testament*), waarvan daar on­ge­veer 220 manuskripte gekry is. Om verskillende manuskripte van mekaar te on­derskei, is ’n sisteem van benoeming ont­werp. Byvoorbeeld, in die afkorting 11QPsa sê die getal 11Q dat die manuskrip in Grot 11 by Qumran gevind is. Ps is die afkorting vir ’n psalmmanuskrip en die a sê dat dit die eerste van meer as een psalmmanuskripte is wat in die spesifieke grot gevind is. Van sommige boeke is daar geen of net enkele manuskripte gevind, en van ander weer baie. So is daar 24 manuskripte met tekste uit Genesis*, maar net drie met tekste uit Rigters*. Daar is net een manuskrip met ’n gedeelte van Esra*, en niks van Nehemia* nie (wat egter in die Hebreeuse Ou Testa­ment ’n deel van een boek, Esra-Nehemia, is). Daar is geen getuienis van Ester* nie, die enigste boek (benewens Nehemia) waarvan daar niks gevind is nie. Daar is 39 manu­skripte met gedeeltes van Psalms* – die meeste van enige boek in die Ou Testa­ment. Van Jesaja* is daar 21 manuskripte gevind, die derde meeste van alle boeke. In Grot 1 is twee rolle van Jesaja gevind, waarvan een (1QIsaa) die volledigste van alle manuskripte is wat by Qumran gevind is.

Wat die aard van die verskillende manu­skripte betref, is die meerderheid van die manuskripte van dieselfde familie as die Masoretiese* teks, wat die basis vorm van die gedrukte Hebreeuse Ou Testament. In die geskiedenis van die teks van die Ou Testament word drie basiese families on­der­skei, naamlik ’n Palestynse, ’n Babilo­niese en ’n Egiptiese familie. Die Masore­tiese teks verteenwoordig die Babiloniese familie, die Samaritaanse Pentateug* die Pale­stynse familie en die ou Griekse verta­ling van die Ou Testament, die Septua­ginta*, die Egiptiese familie. Onder die ma­nu­skripte van die Ou Testament uit Qum­ran is daar ook verteenwoordigers van die Palestynse en Egiptiese families, wat aantoon dat al drie families in Palestina teenwoordig was teen die tyd van die Nuwe Testament*. Een van die psalmmanu­skripte, 11QPsa, is baie belangrik omdat dit nie dieselfde volgorde van die Psalms in die Ou Testament het nie en ook omdat dit ’n aantal apokriewe* psalms tussen die ander psalms het. Onder die manuskripte is daar verder parafrases van die Ou Testament, asook kommentare op die Ou Testament, waaronder die kommentaar op Habakuk* uit Grot 1 die bekendste is. In hierdie kommentaar word die teks van Habakuk direk met die tyd van die skrywer van die kommentaar in verband gebring, sodat die Chaldeërs* van Habakuk verklaar word as die Romeine (Kyk by: Romeinse Ryk) van die tyd van die Nuwe Testament. Die teks van die Ou Testament in die Dooie Seerolle is van onskatbare waarde vir die bestude­ring van die geskie­denis van die teks van die Ou Testament. Die manuskripte is baie ouer as die Hebreeuse manuskripte wat vóór die ontdekking bekend was, en dus ook baie nader aan die tyd van die ontstaan van die verskillende boeke van die Ou Testament.

Die meerderheid van die manuskripte van Qumran is egter nie manuskripte van die Ou Testament nie. Dit sluit in wetsteks­te, tekste met die reëls waarvolgens die gemeenskap van Qumran geleef het en die sogenaamde Oorlogsrol. Hierdie tekste is histories van groot belang, omdat hulle lig werp op die geskiedenis en sosiale opset van die Jode* in die tyd van die Nuwe Testament. Een van die belangrikste van hierdie dokumente is die een wat die reëls van die gemeenskap van Qumran bevat. 1QS was een van die eerste dokumente wat aan die lig gekom het met die ontdekking van die Dooie Seerolle, maar daar is meer afskrifte hiervan gevind. Die dokument handel onder andere oor die inlywing van nuwelinge en bevat die algemene reëls waarvolgens die gemeenskap moes leef. Verder is daar baie digterlike tekste onder die buite-Bybelse dokumente, met onder andere liedere waarin God geloof word. Die Dooie Seerolle is waarskynlik die belangrikste ontdekking ten opsigte van die bestu­dering van die Bybel, spesifiek die Ou Testament, en die Joodse gemeenskap van die tyd van die Nuwe Testament. (Kyk ook: Qumran.)

Vir verdere lees: J Vanderkam en PW Flint 2002. The Meaning of the Dead Sea Scrolls. San Fransisco: Harper.

 

Sidebar