DOOP MET DIE HEILIGE GEES

DOOP MET DIE HEILIGE GEES kom ses keer in die Nuwe Testament* voor en verwys vyf keer direk en een keer indirek na die uitstort* van die Heilige Gees* (Matt 3:11; Mark 1:8; Luk 3:17; Joh 1:33; Hand 1:5; Hand 11:16).

Die enigste keer wat die uitdrukking nie direk na die koms van die Gees verwys nie, is tydens Petrus* se preek by Kornelius*. Terwyl Petrus gepreek het, het die Gees op Kornelius-hulle gekom. Lukas verklaar dat die gawe van die Gees op hulle “uitgestort” is (Hand 10:46 en volgende verse) net soos op die dissipels op die Pinksterdag. Nie minder nie as vier keer beklemtoon hy dat die Gees ook op die heidene* gekom het net soos op ons (dit beteken op die Joodse* gelowiges op die Pinksterdag). Wat dit beteken, word duidelik as ’n mens dink aan die stryd wat die Here* gehad het om Petrus te oortuig dat heidene net soos Jode deel het aan die volle heil* wat Christus* bewerk het (Hand 10). Die gebeurtenis by Kornelius is in hierdie sin net ’n bevestiging dat Pinkster* ook vir die heidene was.

Dit is dus ’n ongewone gebruik van hierdie term om vandag van gelowiges se indiwiduele ervarings te praat as “doop met die Gees”. Dit is ’n kenmerkende uitdrukking in die pinkster- en charismatiese* kerke, en hulle is oortuig dat hierdie erva­ring hulle die krag gee om te getuig.

 

 

Sidebar