DOOP

DOOP was ’n bekende simboliese hande­ling in die antieke tyd. Daar is oorvloedige getuienis dat reinigingswassings lank vóór die Christendom* se ontstaan ’n belangrike aspek van Grieks-Romeinse godsdiens was, ook veral gekoppel aan genesings. In die Ou Testament* is reiniging met water ’n be­langrike aspek van reinheids- of heiligheids­rituele as deel van Ou Israel* se godsdiens, veral ná seksuele omgang of kontak met lyke (Lev 15:18, Num 19:13).

Die Griekse woord in die Bybel* wat met “doop” vertaal is, kan beteken:

  1. om te was, in sommige kontekste moontlik deur in water in te loop – en dan veral om objekte of jouself ritueel te reinig* (Mark 7:4),
  2. om te doop – ’n religieuse seremonie wat ook reiniging simboliseer, maar verskil van die vorige betekenis deurdat dit ook inlywing in ’n religieuse gemeenskap simboliseer (Hand 2:38, Mark 1:4), of
  3. om ’n religieuse ervaring te veroorsaak. Dit is ’n verdere uitbreiding van die vorige betekenis wat dui op ’n hoogs betekenisvolle religieuse ervaring wat ’n spesiale manifestasie van God se krag insluit (Mark 1:8, Matt 3:11).

Die Nuwe Testament* gee ’n eie betekenis aan die doop. Dit kom die eerste keer voor by Johannes die Doper* wat mense wat sy prediking oor sonde* en bekering* aanvaar het, gedoop het as teken van hulle bekering. Christus* het hierby aangesluit en Hom ook deur Johannes laat doop. Jesus* en sy dissipels* het self ook gedoop (Joh 3:22), en by sy afskeid het Hy aan sy dissipels opdrag gegee om dissipels te maak van al die nasies en hulle te doop in die Naam van die Vader*, Seun* en Heilige Gees* (Matt 28:19). In Handelinge* lees ons dat die apostels* bekeerlinge in Jesus se Naam gedoop het (8:12, 16; 10:47-48; 19:5), en die skrywer lê besondere klem daarop dat hele gesinne van mense wat tot beke­ring gekom het, gedoop is (16:15, 33; 18:8).

Van die vroegste bestaan van die Christelike kerk* tot vandag is die doop een van die grootste twispunte in die kerk. Die verskille raak nie net die formele daad nie, maar die teologie* daaragter. Deur die eeue was die kinderdoop en besprenkeling meer die praktyk by die hoofstroomkerke, wat dit sien as teken van die verbond*, dit wil sê simbool van God se verbintenis aan mense* slegs uit genade* (Rom 6:3-6), terwyl die groot doop en onderdompeling by die meer charismatiese* kerke te vind is, wat die Bybel meer letterlik volg en meen dat ’n mens eers moet glo en dan in gehoorsaamheid* aan Christus se opdrag jou moet laat doop (Mark 16:16).

 

Sidebar