DOOPVOORBEREIDING

DOOPVOORBEREIDING, ook bekend as kategumenaat, het ten doel om doopkandidate sorgvuldig voor te berei vir die doop*. Dié gebruik is nie in die Nuwe Testament* bekend nie, maar het wel in die Vroeë Kerk* ontwikkel. Die gebruik was dat kandidate wat vir doop aanmeld, aan die Christelike leer bekendgestel word ná die aanhoor van hulle motiewe en persoonlike getuienisse asook ’n ondersoek na hulle lewe en werk. Hierdie onderrig duur onge­veer drie jaar en geskied onder die leiding van kerklike ampsdraers. Gebed* is ook ’n belangrike deel daarvan. Indien gevind word dat die kandidate genoegsaam in leer en lewe gegroei het, word hulle vir sakramentele inisiëring voorberei, wat hoofsaaklik die doop* en die nagmaal* insluit. Die doop self het gewoonlik in Paastyd plaasgevind. In die Westerse kerk was dié kandidate ook as “uitverkiestes” bekend. Ná die edik van Milaan (314), toe die Christelike godsdiens staatgodsdiens geword het, vind veranderings in hierdie gebruik plaas met die kinderdoop wat al meer die gebruik raak. Sedert die middel van die 20ste eeu word daar binne die hoofstroom Christeli­ke tradisies nuwe aandag aan die kategumenaat gegee. Die sogenaamde post-Chris­telike samelewing het ’n nuwe belangstelling in die praktyke van die Vroeë Kerk* laat ontwikkel.

Vir verdere lees: L Brinkhoff et al 1968. “Voorbereiding der doopleerlingen” in: Liturgisch Woordenboek. Roermond: Ro­nen en Zonen.

Sidebar