DOOYEWEERD, HERMAN

DOOYEWEERD, HERMAN (1894–1977). Saam met Kuyper* besef Dooyeweerd dat die Bybel*boodskap die hart* as religieuse wortel van die mens se bestaan raak en daarom vernuwing in die volle lewe moet bewerk. Hy besef ook dat die verskeiden­heid vakwetenskap­pe (van wis­kunde tot teologie*) altyd in die greep van ’n wysgerige werklikheidsiening is en dat dit juis aan nie-Christelike grond­oortuigings te wyte is dat daar deur die vergoddeliking van skeppingsgegewens tal­le ismes in die wetenskap bestaan (bv materia­lis­me, evolusionisme, psigologisme, historisme, moralisme, piëtisme).

Getrou aan die Bybelse grondoortuiging dat God die Skepper, Onderhouer en Vol­einder van die skepping* is, het Dooye­weerd ’n genuanseerde analise van die ver­skeidenheid aspekte, dinge en samele­wingsverhoudings in die skepping ont­wikkel wat aan die ideaal van ’n Christelike filoso­fie* en Christelike vakwetenskaps­beoefe­ning (Kyk by: Christelike wetenskap) ’n eerste, beskeie beslag gegee het. Hy het ook aangetoon dat die ganse ontwikkeling van die Westerse denke in die greep van grondmotiewe is wat teenoor die By­belse grondmotief van skepping, sondeval en verlossing staan – die vorm-materie mo­tief van die Griekse denke, die Kato­lieke* grondmotief van natuur en genade wat beide voorgenoemde wou versoen, en die moderne humanistiese grondmotief van natuur en vryheid wat aldrie omvorm het in gerigtheid op die vermeende self­genoeg­same outonomie van die menslike persoonlikheid. (Kyk ook: Christelike weten­skap*.)

Sidebar