DOPERS

DOPERS. Net soos “sekte”*, is “dopers” en “wederdopers” woorde wat meestal neerhalend gebruik word vir kerke* wat die kinderdoop* verwerp en net die grootdoop/geloofsdoop beoefen. Die feit dat hulle “dopers” genoem word, beteken nie regtig dat dit net hulle is wat mense doop nie. Die woord “wederdopers” gee ook die bedoeling met “do­pers” weer: dat hierdie kerke mense ’n tweede keer doop. Die kerke wat die kinderdoop beoefen, glo inderdaad dat dit die geval is. Maar die kerke wat dié mense grootdoop, aanvaar nie die kinderdoop nie en bedoel dus om hierdie mense vir die eerste keer regtig te doop. Verder is daar ook nog die misverstand dat hulle die “grootdoopkerke” is, terwyl die kerke wat die kinderdoop beoefen, die “kinderdoopkerke” is. Die waarheid is dat alle kerke die grootdoop/geloofsdoop beoefen. Wat sou ’n kerk anders doen as volwassenes van buite die kerk tot bekering* kom? Die werklike verskil is dus dat daar kerke is wat beide grootdoop én kinderdoop beoefen, terwyl daar ander kerke is wat net die grootdoop beoefen en die kin­derdoop verwerp.

Sidebar