DORDTSE KERKORDE

DORDTSE KERKORDE (1619) – wat van die Dordtse Leerreëls* onderskei moet word – is bekend in feitlik alle kerke wat ’n historiese band met die Gereformeerde Kerk in Nederland van die 16de en 17de eeu het. Hierdie kerkorde – of aspekte daarvan – het sedert sy aanvaarding in 1619 by die bekende Sinode van Dordrecht (1618–1619) wye navolging in ander gerefor­meerde* kerke gevind.

Die Dordtse Kerkorde was die voorlopige eindpunt van die kerkordelike ontwikke­ling in die Gereformeerde Kerk in Neder­land wat in 1568 by die Konvent van Wesel en drie jaar later by die Sinode van Emden begin is. Wat hulle kerkorde betref, is Emden deur Dordrecht (1578), Dordrecht deur Middelburg (1581), Middelburg deur Den Haag (1586) en Den Haag deur Dord­recht (1619) hersien. Die Dordtse Kerkorde van 1619 was dus nie ’n nuwe kerkorde nie.

Die Dordtse Kerkorde gaan uit van beginsels soos dat alle kerklike werk in diens van Christus* en sy Woord* moet wees, dat kerkeenheid ten diepste belydeniseenheid is (dat dus saamgestem word oor wat gelowig bely word), dat “amp” diens beteken, dat daar geen heerskappy van een mens oor ’n ander in die kerk mag wees nie, dat die verskillende vergaderings van die kerk elkeen sy eie taak het en sinodes* daarom nie hoër (of belangriker) as kerkrade* is nie. (Kyk ook by: Kerkorde.)

 

Sidebar