DORDTSE LEERREËLS

DORDTSE LEERREËLS is opgestel en goedgekeur tydens die Sinode van Dord­recht (1618–1619), met die bedoeling om die regsinnige leer uiteen te sit teenoor die dwaalleer wat destyds spanning in die kerk* veroorsaak het. Dit was veral die teologie­professor in Leiden, Jacobus Arminius*, wat afwykende menings gehad het. Toe hy in 1609 oorlede is, het sy volgelinge ’n “remonstransie” (’n versoekskrif of petisie) opgestel, waarin hulle hulle opvattings in vyf punte uiteengesit het. Arminius se ondersteuners is “Arminiane” of “Remon­strante” genoem.

Die vyf punte van die Remon­strante het dit onder andere gestel dat God mense uitverkies op grond van hulle geloof* waar­van God vooruit geweet het; dat Chris­tus* vir alle mense versoening bewerk het; dat die genade* van God weerstaan kan word; en dat gelowiges deur onge­hoor­saam­heid verlore kan gaan. Na lang be­raad­slagings, en advies van buitelandse geleerdes, het die sinode besluit om die Remonstrantse leer te verwerp. Die Dordtse Leerreëls stel die gereformeerde* leer in vyf hoof­stukke. Hoofstuk 1 handel oor die Godde­like uitverkiesing* en ver­werping*, waarin beklemtoon word dat God sy besluite uit vrye welbehae neem. Hoofstuk 2 sê dat Christus se soendood voldoende is vir die sondes* van die hele wêreld, maar dat net die uitverkorenes daardeur salig word. Hoofstuk 3 en 4 bespreek die mens se verdorwenheid en bekering* tot God. Sonder die herskeppende werk van die Heilige Gees* in die weder­geboorte*, kan niemand gered word nie. Hoofstuk 5 benadruk die volharding van die gelowiges (“heiliges”).

Die verskil tussen Dordt en die Remon­strante gaan oor die vraag of ons werklik uit genade alleen gered word. Die Remon­strante het Pelagius* se dwaling gehuldig dat die mens ná die sondeval* nog ’n vrye wil behou het om sélf vir Christus te kan kies. Hierteen het die sinode die evangelie* van vrye genade verdedig.

Sidebar