DOSETISME

DOSETISME (van die Grieks dokein: skyn, voorkom) is die siening dat Jesus* slegs in skyn ’n menslike liggaam en natuur gehad het. Die oorsprong van die dosetisme was die gnos­tiese* denke met hulle sterk teenstelling tussen gees* (wat goed sou wees) en stof of vlees* (wat son­dig sou wees). Daarom moes Jesus volgens hierdie rigting ’n skyn- of “geestelike” liggaam gehad het, nie ’n “vleeslike” liggaam nie. Die Vroeë Kerk* het hierdie dwaling verwerp, omdat hulle ingesien het dat die egtheid van Jesus se menswording*, lyding*, dood* en opstanding* – en daarom die moontlikheid van ons redding* – met hierdie dwaalleer vernietig word. Die leerstuk oor die ware Godheid én die ware mensheid van Jesus as basis vir ons verlossing, word egter tot vandag toe nog aangeval deur voorstanders van soortgelyke neo-dosetiese idees.

Sidebar