DOSTOJEVSKI, FJEODOR MICHAI­LO­WITSJ

DOSTOJEVSKI, FJEODOR MICHAI­LO­WITSJ (1821–1881) se ma is vroeg oorlede en sy pa, ’n somber mens, het ná die dood van sy vrou aan drank verslaaf geraak en min begrip vir sy seun se talente gehad. In 1848 het Dostojevski met ’n revolusionêre groep saamgesweer, is gearresteer en ter dood veroordeel. Op die laaste oom­blik is die voltrekking van sy vonnis afgelas. Hierna volg vier jaar in die gevangenis en vier jaar in ’n strafkamp in Siberië. Sy roman, Gedenkskrifte uit ’n dodehuis, vertel iets van wat hy in Siberië deurgemaak het. Ná dié haglike tyd, het hy hom in ’n ongelukkige huwelik begewe. Toe hy boon­op oral in die skuld geraak het, het hy met ’n swerftog deur Europa begin en met dobbel uit sy verknorsing probeer kom. Terug in Rusland, is hy ná sy vrou se dood weer getroud – en dié keer het dit met sy huwelikslewe beter gegaan. Dostojevski se groot romans het begin verskyn: Misdaad en straf (1867), Die idioot (1868), Die gebroeders Karamazow (1881). Sy ideaal om al sy werke te laat uitloop op ’n finale, groot roman met die werktitel “Die lewe van ’n groot sondaar”, kon hy nie verwesenlik nie.

Dostojevski was ’n mens vol teenstellings, ’n gelowige wat die twyfel* goed geken het en naby aan die ateïsme* geleef het. Altyd gaan dit in sy werk oor die keuse vir of teen God, en ook daaroor dat die geloof* in God en Christus*, Hy wat die dood* oorwin het, die mens tot egte verbondenheid met ander bring – veral ’n verbondenheid met almal wat ly, ’n verbondenheid in deemoed en nederigheid*. Sy Russies-Ortodokse benade­ring (Kyk by: Grieks-Ortodokse teologie) bring wel mee dat die teenstelling van dood en lewe* dié van sonde* en genade* verdring.

Vir verdere lees: SJ Popma 1961. “Dostojevskij” in: FW Grosheide en GP van Itterzon (red), Christelijke Encyclopedie, deel 2. Kampen: JH Kok.

Sidebar