DOWES, INSTITUUT VIR.

DOWES, INSTITUUT VIR. Een van die belangrike motiverings van di W Murray en C Rabie* vir die stigting van ’n skool vir gehoorgestremde kinders, was hulle onvermoë om die evangelieboodskap aan dowe kinders in hulle gemeentes oor te dra as gevolg van die gebrek aan taal- en kommunikasievaardighede. Daar was slegs ’n skooltjie van die Katolieke Kerk* beskikbaar, en die twee dominees wou ’n skool met ’n gereformeerde* inslag hê. Die ander opsie was om die dowe kinders in hulle gemeentes na Europa te stuur. Die skool vir dowe leerders op Worcester het op 15 Junie 1881 met een leerder geopen onder die naam “Het Doofstommen en Blinden Instituut”. Vir meer as 70 jaar was dit die enigste skool vir Afrikaanssprekende dowes in die land. Die Transoranje-Skool vir Dowes in Pretoria het eers teen die middel van die vorige eeu, in 1954, geopen en daarna het nog ander skole gevolg. Die Instituut vir Dowes was ook instrumenteel in die ontwikkeling en vestiging van gebaretaal as ’n kommunikasiemedium.

Getrou aan die oorspronklike motive­ring waarom ’n skool vir dowe kinders nodig was, het daar later ’n aantal gemeen­tes vir dowe persone ontstaan. Mettertyd het die behoefte aan ’n Bybel* vir gehoorge­stremde persone na vore gekom en in 2008 het Die Bybel vir Dowes verskyn: ’n unieke en werklik eerste vertaling van sy aard wat in 2009 deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns met die Ds Pieter van Drimmelenmedalje* bekroon is. Daar is in 2005 ook besluit om te begin om gehoorgestremde mense as sendelinge* op te lei met die oog op die bediening van die evangelie* aan gehoorgestremde persone deur gehoorgestremde persone.

Naas die skole vir gehoorgestremde mense, is ook begin om opleiding, werk en akkommodasie te verskaf aan volwasse gehoorgestremdes wat nie in die arbeidsmark opgeneem kan word nie. (Kyk ook: De la Bat.)

Vir verdere lees: JJ De Klerk (red) 1990. Die Diens van Barmhartigheid en die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Kaap­stad: NGKU.

Sidebar