DREYER, ANDRIES

DREYER, ANDRIES (1872–1938) was sendeling, kerkhistorikus en argivaris van die NG Kerk*.

As onderwyser studeer Dreyer aan die Victoria-kollege op Stellenbosch om hom vir sending*werk te bekwaam, en terwyl hy op Hermanus skoolhou, slaag hy in 1896 die sendelingeksamen van die NG Kerk sodat hy ook hier as sendeling* kon arbei. Van 1903–1929 is hy sendeling in die wyk Hanoverstraat van die gemeente Kaapstad. Hy word in 1929 die eerste kerkargivaris, asook redakteur van die Jaarboek van die NG Kerk (Die Kerkalmanak) tot met sy dood.

Van 1899–1938 stel hy sowat 22 gedenkalbums van gemeentes in Kaap­land saam, asook geskiedkundige wer­ke oor die kerk en sy werksaamhede. Hoe­wel van die geleentheidsalbums oorhaastig saam­gestel en oppervlakkig is, prikkel dit lesers se be­lang­stelling in hulle gemeenskap.

Dreyer se geskiedkundige publikasies sluit in Kruisgesante in Suid-Afrika (1927). Hy was wel nie ’n vakkundige geskiedskrywer nie, maar tog ’n baanbreker op dié gebied. Hy versamel ook bronnemateriaal vir ’n om­vat­tende kerkgeskiedenis*. Hy word redakteur van verskeie kerklike tydskrifte, onder meer De Zendingbode, blad van die NG Sendingkerk*.

As kerkargivaris versamel Dreyer ge­meentelike dokumente en manuskripte, en lê die grondslag vir die kerklike argief­wese. Uit erkenning vir sy werk ontvang hy in 1937 ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Suid-Afrika.

Vir verdere lees: WJ De Kock 1968. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek Deel I. Pretoria: RGN. Die Kerkbode, 14 September 1938.

Sidebar