DREYER, PETRUS SECUNDUS (PIET)

DREYER, PETRUS SECUNDUS (PIET) (1921–1999) studeer naas teologie* ook in die wysbegeerte en behaal DPhil (1951) en DD (1958) aan die Universiteit van Pretoria (UP). Hy bedien die Nederduitsch Hervormde Kerk* se gemeentes Pretoria, Witbank en Potchef­stroom-Noord. In 1953 word hy as dosent aangestel in die departement Wysbegeerte van UP en dien van 1969–1985 as professor en hoof van dié departement. Ten spyte van sy akademiese verantwoordelikheid bly hy betrokke by prediking* en pastorale sorg*. Op sending*gebied is hy die baanbreker wat deur oortui­gingswerk en die begeleiding van swart predikante, die grondslag lê waarop die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika tot stand kom. As ouderlinglid van die Kommissie van die Algemene Kerkver­ga­dering en redaksielid van kerklike tydskrifte, gee hy sterk leiding oor die kerk se rol in die samelewing. Van sy publikasies is: Die Wysbegeerte van die Grieke, Afrikaner-Liberalisme en Die NH Kerk en Sending, asook ’n sestigtal tydskrifartikels. Sy kerk vereer hom in 1986 met die HCM Fourie-erepenning en getuig “dat hy met sy akademiese en kerklike werk ’n sterk bydrae gelewer het tot die bestendiging en uitbouing van die Bybels-Reformatoriese teologie.”

Sidebar