DREYER, YOLANDA

DREYER, YOLANDA (1956–) studeer teologie* aan die Universiteit van Pretoria (UP) (1975–1980) en word daarna die eerste vrou wat toegelaat word tot die bediening in enige van die Afrikaanse susterkerke (die NH Kerk*, NG Kerk* en Geref Kerke*). Sy bedien die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika* se gemeentes Fonteine­dal en Nelspruit voordat sy in 1989 losgemaak word vir verdere studie. In 1994 word sy predikant van die NH Kerk se Nederlands­talige gemeente, en tussen 1986 en 2002 tree sy ook op as aanbieder van godsdiens­programme oor televisie. Dreyer behaal twee doktorsgrade, een oor die pastorale sorg* aan vroue en die waarde van vroue as medegelowiges, en die tweede oor die titels van Jesus*. In 2000 maak sy nog ’n deurbraak vir vroue toe sy die eerste vroue-professor aan UP se fakulteit teologie word, waar sy verbonde is aan die departement Praktiese Teologie* en mettertyd ook hoof van dié department word. Dreyer werk en publiseer op verskillende terreine, onder meer ’n boek oor die verhouding tussen die twee geslagte. So werk sy ’n ruk lank aan ’n genderprojek en doen navorsing oor homoseksualiteit*, spesifiek die homofobie* wat heteroseksuele mense dikwels teenoor homoseksuele ervaar en die psigologiese kragte wat daarby aan die werk is.

 

Sidebar