DRIE-EENHEID

DRIE-EENHEID. Die term “Drie-eenheid” verwys na God wat ons in die Nuwe Testament* leer ken as die Vader* en die Seun* en die Heilige Gees*. Die term kom nie in die Bybel* voor nie. Dit het ontwik­kel na aanleiding van die vraag wie Jesus* is. Hy het volgens die Nuwe Testa­ment ’n unieke verhouding met die Vader. Hy word inderdaad ’n paar keer “God” genoem (Joh 1:1, 18; 20:28; Rom 9:5; 1 Joh 5:20), en die titel “Here” (kurios) wat baiekeer vir Hom ge­bruik word, kan in sommige gevalle ’n vertaling wees van die Naam van God in die Ou Testament*: Jahwe* (Fil 2:11).

’n Lang en moeilike stryd is gevoer teen Arius* wat Jesus wel as ’n Goddelike wese bely het, maar net in die sin waarin die engele* ook in die Ou Testament “gode” genoem is (Ps 82:1 – Hebreeus), wat beteken het dat Hy nie gelyk sou wees aan die Vader nie. Daarteenoor het die sinode in Nisea* in 325 nC bely dat Hy van dieselfde wese as die Vader is. In 381 is by Konstan­tinopel ook die Goddelikheid van die Gees bely. Dit het die weg gebaan vir die klassieke uitdrukking dat God een Wese en drie Persone is, kortweg die Drie-eenheid.

Daar word in twee betekenisse van Drie-eenheid gepraat: “Wesenlike” of “Imma­nente Drie-eenheid/Triniteit”, en “Ekono­miese Drie-eenheid”. Wesenlike of Imma­nen­te Drie-eenheid beteken dat God van alle ewigheid af Drie-enig was, dat Hy dus wesenlik Drie-enig is en dit altyd was, selfs voor die skepping. Die tweede betekenis, Ekonomiese Drie-eenheid, beteken dat God ook in die geskiedenis as Drie-in-Een op­tree. Al Drie is betrokke by alles wat enigeen van die Drie doen, maar Hulle bly tog onderskeie van mekaar. Wanneer die Seun as mens op aarde gebore word, is dit die Vader wat Hom stuur en die Gees wat oor Maria*1 kom. Maar dis die Seun wat mens word, nie die Vader of die Gees nie. As Jesus gekruisig word, is dit die Vader wat Hom oorgee en verlaat (Rom 8:33), en die Gees wat Hom bystaan (Heb 9:14), maar dis nie die Vader of die Gees wat gekruisig word nie.

Sidebar