DU PLESSIS, DAVID JOHAN­NES (DA­WIE)

DU PLESSIS, DAVID JOHAN­NES (DA­WIE) (1905–1987) is op Vier-en-Twintig-Riviere in die Boland gebore. Sy ouers kom uit die sg Groene­woud­beweging uit die vorige eeu. Hy word in Ladybrand in die Vrystaat groot. Daar het die gesin met die pinksterbeweging kennis gemaak. Hy betree in die 1920’s die bediening, alhoewel hy as onderwyser opgelei is. Du Plessis word in 1932 verkies in die uitvoerende raad van die Apo­stoliese Geloofsen­ding* (AGS) en hy word in April 1936 alge­mene sekretaris van dié kerk. Gedurende hierdie tyd was hy waarskynlik die invloed­rykste persoon in die AGS. Hy was die redakteur van die kerk se amptelike tydskrif, het ’n leidende rol gespeel om ’n Bybelkollege in 1940 op die been te bring, en sy inisiatiewe het gelei tot dramatiese groei in die kerk se sending*werk. Sy uitsonderlike bediening, persoonlikheid en begaafdheid, maak vir hom internasio­nale deure oop. Hy speel ’n leidende rol in die eerste Wê­reld-Pinksterkonferensie in 1947 in Zürich. Hy verhuis dieselfde jaar na Europa nadat hy verkies is as die organi­serende sekretaris van die nuwe internasio­nale ekumeniese* liggaam, alhoewel hy sy lidmaat­skap van die AGS behou. In die laat-1950’s word hy die eerste en mees prominente persoon wat die pinksterervaring aan die historiese kerke bekendstel en word daar­deur ’n be­lang­rike wegbereider van die cha­ris­matiese beweging*. As gevolg hiervan het hy die benaming “Mr Pentecost” gekry. Weens sy ekumeniese kontak met die Wêreldraad van Kerke* en veral die Katolieke Kerk*, het hy aanvanklik heelwat teenkanting uit konserwatiewe pinkster­gele­dere gekry. Hy word egter in 1976 deur die St John’s-universiteit met die Pax Christi-toekenning vereer vir sy buitengewone ekumeniese rol in die 20ste eeu. Hy kan met reg internasionaal as een van die belangrikste kerklike figure van die 20ste eeu beskou word.

Vir verdere lees: DJ du Plessis sj. The Spirit Bade me Go. Selfgepubliseer. BL Rutherford 2000. From Prosecutor to Defen­der: An Intellectual History of David J du Plessis, Drawn from the Stories of His Testimony. Pasadena: Fuller.

Sidebar