DU PLESSIS, HUBERT LAWRENCE

DU PLESSIS, HUBERT LAWRENCE (1922–) is in dieselfde maand (Junie) en jaar as ’n ander bekende Afrikaanse komponis, Stefans Grové*, gebore, en het by dieselfde komposisieleermeester, William Henry Bell, studeer. Du Plessis is op Mal­mesbury in die Wes-Kaap gebore, het op Stellenbosch en in Lon­den studeer, en was van 1958 tot 1982 ’n voltydse dosent op Stellenbosch. In 1989 het die Universiteit van Stellenbosch aan hom ’n eredoktorsgraad toege­ken. As komponis is Du Plessis veral geïnteres­seerd in vokale komposisies. Hy het 77 liedere op Afri­kaanse, Neder­landse, Duitse, Engelse en Franse tekste gekompo­neer. Van 1958 af het Du Ples­sis dikwels Afrikaanse en Maleise volksliedere in sy komposisies opgeneem. Sy be­wust­heid van memento mori word dikwels in sy musiek gereflekteer, soos in die Sonata vir solo-tjello (1991) waarvan die tweede deel die opskrif van die Gregori­aanse cantus Media vita in mor­to sumus dra. Du Plessis het minder direkte Chris­telik-kerklike werk gekomponeer as Grové, maar van hom sien in 1961 Die vrou die lig – met aansluiting by onder andere Hooglied*, en in 1983 Hugenote-kantate, op 51.

Vir verdere lees: Edward Aitchison 1987. “Hubert du Plessis” in Peter Klatzow (red), Composers in South Africa Today. Kaap­stad: Oxford University Press. sacompo­sers@up.ac.za                  

Sidebar