DU PLESSIS, JACOBUS JOHANNES (KOOS)

DU PLESSIS, JACOBUS JOHANNES (KOOS) (1945–1984) het in die Afrikaanse musiekwêreld ’n unieke en blywende merk gemaak. Hy is in Rustenburg gebore, het gedurende sy vormingsjare op die Oos­rand­se myndorp Springs gewoon, en BA HOD en BA (Hons) in Afrikaans* aan die Universiteit van Pretoria behaal. Hy was in wese ’n koerantman en het by die destydse Perskor-koerante gewerk. Hy het in die vroeë oggendure van 15 Januarie 1984 op die ou Krugersdorppad verongeluk. Koos du Plessis se musiek word gewoonlik ver­bind met die Afrikaanse musiek- en liriekbeweging van die laat 1970’s, met die gepaardgaande fokus op die “luisterliedjie”. Du Plessis het gemeen dat ’n mens na alle liedjies behoort te kan “luister”, en die woorde wat hy vir sy liedjies geskryf het, is dié van iemand vir wie elke woord saak maak. Sy eerste album, Skadu’s teen die muur, is in 1979 vrygestel, en daarna volg As almal ver is (1981) en Herbergier (1982). Ná sy dood is twee bundels gedigte van hom gepubliseer, en is Koos se Plaat – ’n huldeblyk aan Koos du Plessis uitgereik. In baie van Du Plessis se liedere is daar ’n eindelose heimwee, ’n verlange na iets ondefinieerbaars, ’n deernis met alle mense wat op die lewenstrein soos skimme “van perron tot perron” beweeg.

Du Plessis het aan Suid-Afrikaanse Chris­tene ’n eie Kersfeeslied gegee wat in Afri­kaanse kringe al amper so gewild soos “Stil­le Nag” geword het: “Somerkersfees” wat deur Jannie du Toit uitgebrei en opgeneem is in die Liedboek van die kerk (2001) as “Welkom, o stille nag van vrede”.

Vir verdere lees: http://www.koosduplessis.co.za/bio.htm                        

Sidebar