DU PLESSIS, LODEWICKUS JOHAN­NES (WICKUS)

DU PLESSIS, LODEWICKUS JOHAN­NES (WICKUS) (1897-1968) het aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys* (PU vir CHO) die grondslae van die Christelike staats- en regsleer in Suid-Afrika gelê. Du Plessis was bekend vir sy “soepel” Calvinisme*, dit wil sê ’n Calvinisme wat oop is vir die intellektuele bydrae van nie-Christelike denkers soos Marx* en Darwin*. Du Plessis was stigtersdirekteur van Volks­kas (3 April 1934), het ’n leidende aandeel gehad in die oprigting van etlike ander Afrikaanse sake-ondernemings, en sy stempel afgedruk op organisasies soos die Afri­kaner-Broederbond* en die Ossewabrand­wag. Hy is in 1934 verkies tot eerste voorsitter van die (“gesuiwerde”) Transvaalse Nasio­nale Party. In daardie hoedanigheid was hy voorsitter van ’n ad hoc-kommissie wat ’n grondwet vir ’n toekomstige republiek moes opstel. Dié konsepgrondwet was hoof­­saaklik sy skepping en ’n uitkristalise­ring van sy nasionaal-Calvinistiese staat­kun­dige beskouings, maar dit sou uiteindelik net ’n konsep bly. Hy is destyds deur sommige beskou as die logiese opvolger van DF Malan*, maar sy (vir daardie dae) verligte politieke denke het hom in botsing gebring met Hans Strijdom* en Hendrik Verwoerd*, en hy is mettertyd gemargi­naliseer. Na hom is dikwels verwys as “die profeet van Potchefstroom”, want sy sie­nings was sy eie tyd vooruit.

Vir verdere lees: PJJS Potgieter sj. LJ du Plessis as denker oor staat en politiek. PU vir CHO: Potchefstroom.

Sidebar