DU PREEZ, JANNIE

DU PREEZ, JANNIE (1927–) is op Jou­bertina gebore en matrikuleer op Riversdal. Hy voltooi in 1951 sy opleiding aan die Teologiese Kweekskool* op Stellenbosch en promoveer in 1968 met ’n proefskrif oor Sendingperspektiewe in die Boek Open­baring. Hy vertrek vroeg in 1952 na die destydse Transkeisending, word predikant van die NG Kerk in Afrika*-gemeente, De­co­ligny, en die NG Sendingkerk*-werk­kring, Umtata, en ook dosent aan die Evan­gelisteskool op De Coligny. In 1954 word hy aktuarius* van die Kaaplandse sinode van die NG Kerk in Afrika. Hy dien as hoof en later rektor van die Teologiese Skool totdat hy in 1975 ’n beroep na die Teologiese Kweekskool* op Stellenbosch aanvaar, eers as senior lektor en van 1982 tot met sy aftrede in 1992 as professor in sendingwetenskap*. Hy onderskei hom as ’n ywerige skrywer en publiseer ’n ruim aantal boeke en vakkundige en populêre artikels – onder meer ’n verwerking van sy proefskrif (1979, 1992) en ’n rigtinggewende Sending­per­- s­pektiewe in die erediens (1992). Sy nadenke oor die Islam* laat hom die vraag stel of Allah* dieselfde God as die Here* is, waarop hy genuanseerd antwoord. Du Preez het tydens en na die apartheid*sjare, in ’n tyd van skerp meningsverskil oor die manier waarop die sendingopdrag (Kyk by: Sending en sendingbevel) uitgevoer en die sendingwetenskap beoefen moet word, deurentyd ’n behoudend-gematigde standpunt ingeneem en op kenmerkende be­skeie manier sy bydrae tot kerk* en teologie* gelewer. Hy is ’n medewerker aan die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE).                                                      CM Pauw

Sidebar