DU TOIT, ANDRÉ LE ROUX (ANDRÉ LETOIT, KOOS KOMBUIS)

DU TOIT, ANDRÉ LE ROUX (ANDRÉ LETOIT, KOOS KOMBUIS) (1954–) is volgens sy eie getuieniss nie ’n Christen nie, maar hy “het ’n soort pa­rallelle geloof wat baie van die elemente van die oorspronklike Christelike geloof bevat. Ek glo bv in bekering, wedergeboorte en selfs die spreek van tale. As daar ’n God is, dink ek Sy lag en huil baie.” Koos Kombuis het met “ballades, blues en bevliegings”, CD’s, gedigte, kortverhale, tydskrifrubrieke en romans ’n bekende naam in Suid-Afrika geword – en het op uitnodiging selfs ’n keer in Kerkbode* geskryf. Sy werk word gekenmerk deur si­nisme, selfspot, satire, geestigheid, banaliteit, erns. In sy romans sluit hy soms aan by bekende titels en temas om dan iets totaal anders te skep – vgl Somer II, 1985, wat herinner aan CM van den Heever se Somer, en Raka, die roman, 2005, wat net soos NP van Wyk Louw* se Raka begin: “Die dag toe die ondier gekom het …” Met dié roman wil Kombuis die vrese van die moderne Afrikaner* ontgin in die oorgangstyd van die oue na die nuwe, van die lokale realisme na ’n virtuele, relatiewe werklikheid. “Die ou gode het gesterf, maar daar is nog geen nuwes om hulle plek in te neem nie.” Kombuis het ook sukses behaal met The secret diary of God (2005), wat as godslasterlik gesien kan word, óf as skroeiende kommentaar op wat mense van God gemaak het. Koos Kombuis, met sy dwelmverlede en aweregse invalshoeke, is vir sommige ’n steen des aanstoots, vir ander ’n “profeet”, ’n sonderlinge “ge­wete”, ’n stem waarna (soms) geluister kan word.

Sidebar