DU TOIT, ANDRIES BERNHARDUS (ANDRIE)

DU TOIT, ANDRIES BERNHARDUS (ANDRIE) (1931–2018) het teologie aan die Universiteit van Pretoria studeer en al sy grade, ook MA (Grieks), met lof behaal. Hy is huisvoorsitter van die Sonoptehuis en voorsitter van die Christelike Studentever­-e­niging. Aan die Universiteit van Basel be­haal hy in 1959 sy ThD (insigni cum laude) met Oscar Cullmann* as promotor. Hy be­dien die gemeentes Springs, Riviera en Universiteitsoord, voordat hy in 1971 professor en hoof van die departement Nuwe Testament* van die Teologiese Fakulteit (Afd B) aan sy alma mater word. As dekaan en in die beplanningskomitee van die universiteit lewer hy voortreflike diens. Hy word herhaaldelik aangewys as “Uitnemen­de Presteerder” en ontvang in 1998 ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Totiusprys* vir die studie van die grondtale. Hy dien lank as sekretaris van die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika en as redakteur van Neotestamentica en word vereer met erelidmaatskap. Hy is internasionaal bekend vir sy navorsing, geskrifte en referate as gasspreker. Hy laat sy profetiese stem hoor en voel so sterk oor die Bybelse eis vir kerkeenheid, dat hy ’n minderheidsverslag hieroor aan die Algemene Sinode van die NG Kerk* voorlê. Hy was ’n ondertekenaar van die Hervormingsdagge­tuienis*. Lidmate ken hom vir sy suiwer Skrifuitleg oor die radio en in sy boeke Room van Romeine (1984), Hebreërs vir vandag (2002) en Beleef God se genade (2004).

 

Sidebar