DU TOIT, BAREND JACOBUS (BEN)

DU TOIT, BAREND JACOBUS (BEN) (1950–) is op Nkhoma, Malawi, gebore, word in Zimbabwe groot en matrikuleer in die Strand. Aan die Stellenbosse Universi­teit behaal hy BA en BTh en spesialiseer in die sendingwetenskap*. Later behaal hy ’n meesters- en doktorsgraad in die siste­matiese teologie aan die Universiteit van Port Elizabeth. Hy bedien die NG gemeentes Burgersdorp en Dias (Port Alfred en omge­wing) voordat hy in 2000 die direkteur van kommunikasie van die Wes-en-Suid-Kaapse Si­no­de van die NG Kerk* word. Hy is ook die verteenwoordiger van die NG Kerk wat, saam met ander kerke, insette lewer by die nasionale Parlement se wetskrywende pro­ses. Saam met dr Kobus Gerber* het hy in 2006 ’n waagmoedige voorlegging oor homo­sek­suele burgerlike verbintenisse* aan die betrokke portufeuljekomitee van die Parlement gedoen. Hy was ook sameroeper van die NG Kerk se taakgroep vir leer en aktuele sake wat kerklik-teologiese standpunte formu­leer.

Sy publikasies, wat Geloof en Skrifgesag (1983) saam met Wentzel van Huyssteen*, God? Geloof in ’n post-moderne tyd (2000 – wat met die Andrew Murrayprys* bekroon is) en Sprakeloos oor God (2005) insluit, handel almal oor die verantwoordbaarheid en integriteit van teologiese uitsprake in ons tyd. Daardeur het hy bekend geword as ’n leidende eksponent van kritiese teologiese denke binne die NG Kerk.

Sidebar