DU TOIT, DANIËL ALBERTUS (DA­NIE)

DU TOIT, DANIËL ALBERTUS (DA­NIE) (1942–2011) het van Douglas in die Noord-Kaap gekom. Hy was ’n briljante leerling en student, ’n begaafde studenteleier en ’n goeie rugbyspeler en atleet. Ná sy stu­dies aan die Stellenbosse Kweekskool vertrek hy na die Vrije Universiteit* van Amster­dam waar hy in 1971 onder GC Berkouwer* pro­mo­veer met ’n proefskrif oor die frase “ter helle neergedaal” in die Twaalf Arti­kels*. In 1971 word hy senior lektor aan die Hugenote Kollege* op Wellington, en word daarna die eerste en enigste persoon wat na al drie die teologiese fakulteite waar die NG Kerk* predikante oplei, beroep is. Hy het in 1967 mede-professor aan die Universiteit van Pretoria geword, daar­na ’n beroep na die nuutgestigte Teo­logiese Fakulteit van die Universiteit van die Vrystaat bedank, en in 1978 dosent aan die Teologiese Kweekskool* op Stellenbosch geword. Uit sy pen het verskeie publikasies verskyn, veral op die gebied van die etiek* waar hy temas soos die ekologie*, aborsie*, menseregte*, die sosiaal-maatskaplike rol van die kerk*, die verhouding tussen kerk en staat*, arbeidsetiek en tussengroepverhou­dings aan die orde gestel het. Du Toit was in ’n stadium beskou as dié artikuleerder van gereformeerde* etiese standpunte in Suid-Afrika. Hy was ’n medewerker aan die Christelike Kernensiklopedie (CKE en eCKE).

Sidebar