DU TOIT, HENDRIK DANIËL AL­PHON­SO

DU TOIT, HENDRIK DANIËL AL­PHON­SO (1907–1975) is van Porterville afkomstig waar hy op skool net soos later (1925) aan die Universiteit van Kaapstad én vanaf 1928 aan die Kweekskool op Stellenbosch uitblink in akademie, sport en musiek. Naas sy studie, het deelname aan die aktiwiteite van die Christenstuden­te­vereniging* (CSV) gesorg vir ’n geestelike verdieping. Ná doktorale studie aan die Vrije Universiteit* van Amsterdam word hy einde 1932 hulpprediker in Johannesburg-Oos en vanaf 1933 studenteleraar van die noordelike universiteite en kolleges. Gedu­rende 1935 tot 1952 bedien hy agtereenvolgens die gemeentes Carolina, Pretoria-Oos, Bronberg, Pretoria en Paarl.

Nadat hy promoveer met ’n doktorsgraad in die preekkunde aan die Universi­teit van Pretoria, word hy in 1953 hoogleraar aan die Teologiese Fakulteit aldaar. Met sy dosentskap, maar ook as lid van sinodes en kerklike kommissies, en deur sy geskrifte lewer hy ’n belangrike bydrae tot sy vakgebied van die praktiese teologie, sending- en godsdienswetenskap. Hy het veel gedoen ten opsigte van die besinning oor die kerklike liturgiek* (veral wat betref kerkmusiek en -argitektuur) en was die skrywer van etlike gewilde Bybelse dagboeke.

Vir verdere lees: BJ Marais 1987. “Du Toit, Hendrik Daniël Alphonso”, Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel 5. Pretoria: RGN.

Sidebar