DU TOIT, JACOB DANIËL (TOTIUS)

DU TOIT, JACOB DANIËL (TOTIUS) (1877–1953) was die seun van ds SJ du Toit* en Elizabeth (gebore Joubert, oorlede toe Totius vyf jaar oud was) van die NG gemeente Noorder-Paarl. Sy pa het ’n groot invloed op sy vorming gehad. Hy was ’n uitnemende teologiese student – eers op Burgersdorp (die Gereformeerde Kerke* – GKSA – se destydse teologiese skool) en later aan die Vrije Universiteit* van Amsterdam, waar hy in 1903 onder Abraham Kuyper* met ’n proefskrif oor Het Methodisme gepromo­veer het. In sy lewe het hy nege eredoktorsgrade ontvang. Hy en sy jarelange vriend, Ferdinand Postma*, was saam kampvegters vir Christelike hoër onderwys in Suid-Afrika. Dit het besondere verwesenliking gevind in die Potchefstroomse Universi­teits­kollege (PUK) en later die selfstandigwording van die Potchefstroomse Universiteit vir CHO* (1951).

Totius was ’n Kaapse rebel saam met die Boeremagte in 1899 (as veldprediker); predi­kant van die Gereformeerde Kerk Potchef­stroom (1903–1911); professor in teologie* (1911–1949); volksman; taalstryder; grondlegger van die Afrikaanse digkuns.

Die kroon van Totius se werk uit kerklike oogpunt was die 1933-Bybelvertaling en die Psalm- en Skrifberymings (bekend as die 1936-beryming). In 1923 is Totius (Ou Testament) saam met dr JD Kestell* (Nuwe Testament) benoem as die eerste twee vol­tydse Bybelvertalers in Afrikaans*. Sy wagwoord aan teologiese studente was: oratio, meditatio, tentatio (welsprekendheid, den­ke, inspanning). Hy was ekumenies* gesind en wars van “kerkisme” en “kerklike imperialisme”. Hy was die eerste kanselier van die PU vir CHO.

Tydens die groot kerksaak in die 1930’s tussen die NG Kerk* en prof Johannes du Plessis*, is Du Toit deur die NG Kerk gevra om hulle saak in die Hooggeregshof te help stel. Du Toit het veral die Kuyper-rigting in die gereformeerde* teologie verdedig. Op ’n ander vlak het Du Toit geglo dat apartheid* uiteindelik die Afrikaners* se voortbestaan sou beveilig en ’n regverdige bedeling in Suid-Afrika teweeg sou bring.

Totius se boustof vir sy digwerk is herleibaar tot twee temas, naamlik die nasio­nale verlede en die persoonlike lewe. Totius se hoogtepunt, wat die verwerking van nasionale boustof betref, is Trekkerswee (1915). Van sy meer persoonlike liriek, is Passieblomme (1934) ’n hoogtepunt en met gedigte soos “Ek wou my ganse digkuns waag”, “Die Godsbesluit” en “Die wêreld is ons woning nie” kan dit as Totius se “sui­werste bundel” beskou word (JC Kanne­meyer). Totius se herdigting van Ps 8 en Ps 130 is, literêr gesproke, van die geslaagdstes in die Psalmbundel.

Vir verdere lees: EA Venter 1976. Totius. Pretoria: JL van Schaik. 1960. Versamelde werke van JD du Toit (Totius), deel 1-8, Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel. PJ Nienaber 1948. Totius: digter en profeet. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel. JC Kannemeyer 2005. Die Afrikaanse Litera­tuur 1652–2004. Kaapstad: Human & Rousseau.

Sidebar