DU TOIT, STEPHANUS JOHANNES (SJ)

DU TOIT, STEPHANUS JOHANNES (SJ) (1847–1911) is in Dal Josafat, Paarl, ge­bore, waar hy ook oorlede is. Hy studeer aan die Teologiese Kweekskool* op Stellen­bosch, voordat hy op Wellington georden word.

As taalstryder beywer hy hom vir Afri­kaans* as selfstandige taal. Hy skryf onder die skuilnaam “Ware Afrikaander” in die Zuid-Afrikaan, stel spelreëls vir Afrikaans op, stig die Genootskap van Regte Afri­kaners (14 Augustus 1875), en word redakteur van die eerste Afrikaanse koerant, Di Afrikaanse Patriot, wat op 15 Januarie 1876 in die Paarl verskyn.

Du Toit publiseer die eerste Afrikaanse grammatikaboek (1876), en sy pleidooi vir moedertaalonderrig lei tot die stigting van die Hugenoten-Gedenkschool. Hy bepleit die stigting van ’n “Afrikaner Bond”, en neem die leiding met die stigting van ’n organisasie met republikeinse doelstellings.

Hy publiseer verskeie teologiese werke, asook die godsdienstige tydskrif De Getuige (1881–1904). Du Toit het groot waardering vir die teologie* van Abraham Kuyper* gehad. Van 1882–1888 is hy superintendent van onderwys in die Zuid-Afri­kaansche Republiek waar hy verskeie onderwyswette deurvoer, en ook lid is van die deputasie wat na Brittanje reis vir onderhandelings. Du Toit was aanvanklik ’n raadsman en vertroueling van pres Paul Kruger*, maar mettertyd verloor hy sy vertrouensposisie. Hy pleit, téén die gevoelens van die Transvalers, vir ’n polities-verenigde Suid-Afrika, en keer op die ou end teleurgesteld terug na Dal Josafat. Deur sy  volgehoue steun vir Cecil John Rhodes ná die Jameson-inval, het hy ook van Kaapse Afrikaners vervreemd geraak.

Sy Afrikaanse vertaling van die eerste hoof­stukke van die Bybel* verskyn in 1889. Hy dig en skryf ook die eerste Afrikaanse ro­man, Het huisgezin van den Hugenoot, ’n novelle en toneelstuk. Du Toit, wat twee keer getroud was, se seun was die bekende digter Totius*.

Sidebar